Psalm 91 : 4 Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n
veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou
aan alle kante.
Die afgelope week het die woorde
vleuels en skuilplek by vyf verskillende geleenthede na my gekom. Een oggend
was dit in die vorm van ‘n nommerplaat Psalm 91 : 2. Dit was vir my duidelik dat God my wou
verseker dat ek beskermd en veilig is.
Dit was uiters betekenisvol in ‘n
week waar ek tot die uiterste beproef is, op soveel verskillende maniere. Ek het mismoedig gevoel en was op ‘n plek
waar ek net wou boedel oorgee.
Dus was dit uiters betekenisvol
om keer op keer hierdie woorde tee te kom.
God wou my verseker dat ek nie alleen is nie en Hy wou my herinner dat
daar vir my ‘n veilige hawe wag.
Die lewe is verseker nie maklik
nie. Elkeen van ons word op ons eie
manier beproef. Party van ons kan meer
hanteer as ander… of dalk het party net meer deurgemaak as ander. Die teks is vir elkeen wat voel dat die
aanslae van die duiwel besig is om hul onder te kry.
Hy is ‘n omgee God. Jy is nie alleen nie. Kom skuil onder Sy vleuels tot jy weer die
lewe in die oë kan kyk. Dis die een plek
waar jy nie hoef voor te gee of haastig te wees nie.
No comments:
Post a Comment