Jakobus 1 : 4 Julle moet bly wees wanneer allerlei
beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets
deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word
sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
‘Seriously?’ Wie kan nou bly wees as jy beproef word? Ons weet die lewe gaan die een of ander tyd
sy rugkant vir ons keer. Al wat ons dan
wil doen is om so gou as moontlik daar deur te kom.
Jakobus skryf hierdie brief aan
Joodse Christene wat oor die wêreld versprei is. Verder in die gedeelte sê hy
ook: “As ‘n mens bid, moet jy die
vertroue hê dat God sal antwoord.”
God verwag nie van ons om in
stilte te ly nie. Hy weet dat jy selfs
meer alleen voel wanneer jy beproef word en daarom kan jy jou gerus na Hom
wend. Dit is juis dan dat jy heerlike
kwaliteit tyd met God het. In jou
broosheid is jy oop vir Sy stem en leiding.
Jy weet dat jy nie op jou eie kan oorwin nie en jy vertrou Hom
blindelings.
Wanneer jy so daarna kyk, wens jy
amper jou beproewing wil sommer nou opdaag.
Geestelike rypheid behoort die een hunkering in elke Christen se lewe te
wees. En dit is waarheen ons op pad is
elke keer dat ons so naby aan Hom is.
No comments:
Post a Comment