Psalm 25 : 4 – 5 Maak my U wil
bekend, Here, leer my U paaie. Laat U
waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is my God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.
Om doelgerig te lewe en ‘n
duidelike idee te hê van wat jy in die lewe soek, is nie op sigself verkeerd
nie. In vandag se lewe is geleenthede
skaars en daarom moet jy sekermaak jy weet presies wat jy doen, waarheen jy op
pad is en hoe jy daar gaan uitkom. Dis ‘n
kwessie van ‘survival of the fittest’.
Hoeveel van hierdie gedrewenes
sluit God by hul planne in? Is God
hoegenaamd in die prentjie?
Jy sien, om God te raadpleeg
beteken nie dat jy nie op jou eie kan regkom nie. Hier’s ‘n ‘reality check’. God het ons nie nodig nie, maar ons kan
eintlik nie sonder Hom nie. Moenie voel
asof jy nou ondergeskik is en geen sê in jou eie lewe gaan hê nie.
God is nie ‘n beheervraat
nie. Hy dra jou belange op die
hart. Met jou beperkte uitsig op die
lewe, gaan jy verseker hier en daar ‘n verkeerde besluit neem en duur lesse
leer. God ken jou hart en jou
drome. Hy sal jou help en wys waar om te
loop.
Is dit nie genoeg rede om op Hom
te vertrou nie?
No comments:
Post a Comment