Romeine 8 : 26 – 27 Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid
nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge, wat nie met woorde gesê
kan word nie. En God, wat die harte
deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die
wil van God, vir die gelowiges.
Here, ek buig in aanbidding voor
U neer, maar woorde ontbreek my. Waar
begin ek, Here? Hoe verduidelik ek my
verlede? My lewe is een groot gemors.
Ek het myself soveel keer
voorgeneem om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, maar dan gebeur daar weer iets en
ek gee my weer oor aan die lewe en al die versoekings. Ons lewe immers net een keer! En die drank het my gehelp om te ‘cope’. Ek het niemand skade aangedoen nie.
Die enigste vlieg in die salf is
my gewete. Ek het altyd skuldig gevoel
as ek weer terugkeer na die werklikheid.
Elke keer het ek myself voorgeneem dat dit die laaste keer is… tot my
pêlle my arm draai.
Ek neem aan my gewete was die
Gees wat voortdurend vir my ingetree het. Dit is tyd Here, dat ek luister en
besef U het nooit opgegee op my nie.
Miskien is dit hoe ‘n mens bid, Here… deur sommer net jou hart oop te
maak en jou deur die Gees te laat lei. Deurgrond
my, O Here.
No comments:
Post a Comment