Psalm 70:6 Ek is hulpeloos en arm; kom tog gou na my
toe, o God. U is my hulp en my redder, Here, moet tog nie talm nie!
‘n Vlêrmuis is baie interessante dier. Mense hou nie juis van hulle nie a.g.v.allerhande
wolhaarstories soos dat hulle jou hare sal afskeer of jou bloed suig, maar hul
is eintlik skadeloos. Om die waarheid te
sê die moontlikheid dat ‘n vlêrmuis in jou hare sal beland is baie skraal omdat
hul ‘n ingeboude sonar het wat sorg dat hulle nie in iets vasvlieg nie. As jy so gelukkig is om een te sien, sal jy
verstom staan oor die spoed waarmee hul moeiteloos deur die lug swiep.
In Suid-Afrika is daar 7 verskillende
spesies wat vrugte eet en 65 spesies wat insekte eet. Meeste vlêrmuise woon in grotte, maar dit
kan ook wees dat hul hulself in jou dak tuismaak, wat dan ‘n probleem is, maar
jy mag hul nie vergiftig nie aangesien hulle beskermd is. Kry liewer iemand om hul te verwyder. En hulle is regtig oulik… die gesiggie lyk
nes ‘n klein hondjie.
Sit nou hierdie selfde vlêrmuis op die
grond neer en hy is hulpeloos. Hy sal
rondspartel totdat hy hopelik iewers afval of dood neerslaan van
uitputting. ‘n Vlêrmuis het hoogte nodig
om te kan ‘opstyg’.
Wanneer ek of jy in ‘n situasie beland waar
ons buite ons gemaksone is, is ons ook hulpeloos. En soms spartel ons soveel dat ons ook nie
verder kan nie. Ons hoef egter nie
hulpeloos te spartel met die hoop dat ons iewers weer op ons voete sal beland
nie. God is daar om ons deur elke
moeilike situasie te help. Of jy nou
hulpeloos, fisies of geestelik arm is, God kan jou te hulp snel. Roep uit na Hom. Die teks eindig op so ‘n bemoedigende noot…
hy sal nie talm nie!
No comments:
Post a Comment