Job 6:13 Self is ek tot niks in staat nie.
Sheri Brynard (32) het ‘n indrukwekkende
CV. Sy is die Internasionale Ambassadeur
vir mense wat aan Down Sindroom (DS), ook bekend as Trisomie, ly. Haar storie is een van waagmoed en
deursettingsvermoë… van iemand wat weier om teruggehou te word as gevolg van ‘n
ekstra geen waarmee sy gebore is.
Buiten ‘n rits toekennings, waaronder ook internasionale toekennings, is
sy die eerste gestremde persoon wat ‘n Presidensiële toekenning ontvang het vir
haar bydrae tot gestremdes se lewe.
Sy glo onwrikbaar dat elke persoon die
keuse het om die beste van hul omstandighede te maak. In 2012 word sy uit 1400 kandidate as
Shoprite Checkers se “Vrou van die Jaar” gekies in die kategorie “Young
Movers”. Sy het al byna 400
motiveringspraatjies gelewer , regoor die wêreld. Tans is sy ‘n assistent onderwyseres. Ja, jy’t reg gelees. Sy is die eerste persoon, ter wêreld, met Down Sindroom wat ‘n diploma
in onderwys verwerf.
As motivering spreker, sê sy ook: “Moet nooit opgee op jou drome nie.” Sy wou altyd onderwys gee en meeste mense sou
seker vir haar gelag het. Sy het almal
verkeerd bewys. Sy vertel hoe sy soms
vakke gedruip het, maar dat sy eenvoudig aanhou probeer het totdat sy geslaag
het.
Jy staan verstom oor die volwassenheid en
intelligensie van hierdie pragtige jong dame.
Dit is so maklik om iemand te katagoriseer
volgens ons verwysingsraamwerk. Ons
plaas mense in boksies. So byvoorbeeld is
daar ‘n persepsie dat iemand met Down Sindroom as’t ware verstandelik te kort
skiet en nooit in staat sal wees om selfversorgend te wees nie.
God plaas jou en my nie in ‘n sekere
katagorie nie. Die geheim lê daarin dat
ons besef dat ons self tot niks in staat is nie, maar toegang het tot Die Een
wat tot alles in staat is.
Ek hoop dat Sheri Brynard se verhaal jou
sal motiveer om nooit jou drome te laat vaar nie. Hou aan droom, maar moet dit nooit in eie
krag doen nie.
No comments:
Post a Comment