Lukas 14 :
26 “As jy my dissipel wil wees, moet jy
My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters – ja, meer
as jou eie lewe. Anders kan jy nie my
dissipel wees nie. (NLV)
Ons dominee
het vanoggend ‘n baie oulike manier gebruik om die boodskap oor te bring na
aanleiding van die teks. Die boodskap
het gegaan oor die dinge wat ons weghou van God.
Hy het een van
die gemeentelede gevra om voor by hom te kom staan en verskillende grootte
balle, een vir een vir hom gegee om vas te hou.
Elke bal het iets gesimboliseer wat ons van God kan weghou bv. geld,
besittings, jou beroep, sport, sukses, selfliefde, iemand vir wie jy liewer is
as vir God, ens. Laastens neem hy ‘n
strandbal en gooi dit vir die persoon wat al die vorige balle vashou. Die enigste manier om die bal te vang, was om
die ander balle te laat los. Die
strandbal het God gesimboliseer. Verdere
verduideliking was nie nodig nie, want almal het verstaan dat jy alles moet los
om God te ontvang.
Die voorbeeld
met die balle kan verder geneem word. Ons is so besig om meer as een bal in die lug
te probeer hou, dat ons nie in staat is om
nog ‘n bal by te voeg nie. Is enige van
daardie balle werklik vir jou enige iets werd terwyl jy hul in die lug probeer
hou? Nee, dit is eers as jy almal ophou
‘juggle’ en een gebruik om mee te speel dat die bal van enige nut is. En terwyl jy die balle in die lug probeer
hou, kan jy op niks anders fokus nie.
Die balle word die middelpunt van jou fokus.
Ek moes
vanoggend baie eerlik na my eie lewe kyk en besef dat daar indringende
veranderinge moet plaasvind. Die enigste
manier is om al die ander balle te laat gaan om vir God plek te maak.
No comments:
Post a Comment