Genesis 1:26 Toe
het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat
hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die
wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”
As kind het ek
dikwels aanskou hoe die groot mense gereed maak om te gaan jag. Gewere word skoongemaak… die ligte op die
voertuig word nagegaan… daar heers ‘n opgewondenheid onder die manne. Ek krimp in-een, huil hartverskeurend, smeek
my pa om nie saam te gaan nie. Iewers is
daar ‘n onskuldige dier of tien wat nie môreoggend die son gaan sien opkom
nie. Die volgende dag moes ek die afslag
en verwerking van die vleis aanskou. Dit
het ‘n geweldige impak op my kindergemoed gehad.
Onlangs hoor
ek die eerste keer van “Driven Hunting”.
Oorsee vind dit al jare lank plaas, en seker hier ook, maar ‘n herrie
het losgebars nadat oorsese toeriste op drie plase naby Alldays in Limpopo meer
as ‘n 100 diere oor 5 dae geskiet het.
Die jagters
word in ‘n kamp ingeneem waar daar ‘n verskeidenheid wilde diere is. ‘n Groot skare word gehuur om in ‘n lang ry
van weerskante af geraas te maak sodat die diere gekanaliseer word in ‘n oopte
waar jagters op houtstellasies gereed staan om hul af te maai. Niks moeite nie… geen stap en hoop jy kry ‘n
dier onder skoot nie… geen kans vir wegkom nie, want die diere vlug van die
geraas reg in die visier van die jagters / ‘n wagtende vuurpeleton.
Agterna word
die dooie diere in rye voor hul neergelê en poseer hul trots agter hul
prooi. Inderdaad waarde vir geld en
sukses is min of meer gewaarborg. Dis ‘n
wen-wen situasie. Die plaaseienaar kry
‘n lekker vet inkomste en die toeriste is verseker van ‘n trofee wat hulk an
saam terugneem.
Die hartseer
is dat die NSPCA moet toesig hou sodat dit gebeur volgens aanvaarbare standaarde!!!
Agterna is dit ook hul hartseer taak om die gewonde diere te vind en van
kant te maak, want gewondes sal daar wees.
Is dit
regverdig? Is dit moreel
aanvaarbaar? Is dit wat God in gedagte
gehad het toe hy ons as aangestel het om te heers oor die diere? Wie is die eintlike diere? Watter respek betoon dit teenoor God se
pragtige, onskuldige, skepsels?
Ek kan nie vir
een oomblik dink dat dit is wat God in gedagte gehad het toe hy ons aangestel
het om oor die diere te heers nie. Sulke
gedrag maak van ons van die wreedste diktators op aarde.
No comments:
Post a Comment