Efesiërs 5:5 Dít
moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard
is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus
en van God nie.
Lee Farkas is
‘n man wat skool vroeg verlaat het om sy pa se versekeringsmaatskappy oor te
neem. Die het hy, binne enkele maande,
in die grond in bestuur. Daarna het hy
nog ‘n besigheid begin wat misluk het.
Uiteindelik het hy op ‘n klein dorpie, Ocala, beland waar hy ‘n Huislening
maatskappy onder die naam van Taylor, Bean & Whitaker begin het. Dit was sy deurbraak. Die besigheid het baie vinnig gegroei en hy
het kort voor lank 2500 mense in diens gehad.
Omdat alles
nie op ‘n eerlike manier gedoen is nie, het hy fondse nodig gehad. Hy het by Colonial Bank aangeklop en op die
een of ander manier die Uitvoerende Hoof, Cathy, onder sy spel gekry sodat sy
hom basies gehelp het om voort te gaan met sy oneerlike besigheid. Hy sou ook by Freddy Mac en Ginnie Mae banke
aanklop vir hulp en omdat Colonial Bank hom ondersteun het en Cathy hom gehelp
het om te sorg dat sy rekeninge goed lyk al was daar nie geld in nie, het hulle
ook krediet aan hom toegestaan.
Dit was ‘n
ingewikkelde skema waarvolgens verskeie partye ‘n reg (verband) sou hê op
dieselfde eiendom. In baie gevalle het
die eiendomme nie eens bestaan nie. Farkas
het meer as 3 biljoen dollar verduister.
Op die ou end
sou dit die ondergang van Freddy Mac en Ginnie Mae Banke beteken. Meer as 500 000 huiseienaars sou hul huise
verloor en 2500 mense sou werkloos wees.
In April 2011 is Lee Farkas skuldig bevind op 14 aanklagte van
sekuriteitsbedrog en sameswering. Hy is
tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.
Om sy gewete
te sus, het sy filantropie geen perke geken nie. Hy sou ‘n vervalle teater in die dorp
restoureer vir miljoene dollars. Hy het
mense aangestel teen ses syfer salarisse terwyl hul geen ondervinding gehad het
nie. Niemand het regtig geweet hoe die
operasie inmekaar steek nie en hy wou ook nie hê enige iemand moet te veel
omtrent die besigheid weet nie. Die
hoofkantoor was ‘n droom om in te werk met ‘n kombuis waar daar elke dag
eksotiese disse, soos kaviaar en ingevoerde salm voorgesit sou word.
Lee het ook
nie gehuiwer om homself te bederf nie.
Luukse huise, bote, privaat stralers, eksotiese vakansies…
Miskien dink
jy dat jy darem nie naastenby soos Lee is nie, want jy is nie besig met enige
oneerlikheid nie. Gierigheid is net nog
‘n vorm van selfsug wat hom in verskeie gedaantes voordoen. Skep jy vir jouself meer kos in… neem jy die
grootste stuk koek… eet jy uit in duur restaurante, maar gee die motorwag net
‘n vuil kyk… Behandel jy die bedelaar
asof hy nie bestaan nie terwyl jy in oorvloed leef… Sorg jy dat jy genoeg werk het al weet jy jou
kollegas is nie besig genoeg nie… vergeet jy gerieflikheidshalwe van jou
ouer(s) in die ouetehuis… is jy een van daardie motoriste wat op ‘n afrit sal
verbyjaag en voor gaan indruk?
No comments:
Post a Comment