2 Korintiërs
10 : 5 Ons neem elke gedagte gevange om
dit aan Christus gehoorsaam te maak.
Voel jy asof
jy beheer verloor het oor jou lewe? Dit
is nie net ‘n gevoel waarmee jy een oggend opstaan nie. Dit is as gevolg van jou denke oor ‘n periode
van tyd.
Wanneer jy
inkopies doen, trek jou keel heelwaarskynlik toe as jy die totaal sien, maar jy
glimlag floutjies en haal jou kaart uit.
Jy weet die aankope veroorsaak dat jy verder in die skuldgat afdaal,
maar jy probeer dit regverdig op elke moontlike manier. ‘n Stemmetjie knaag binne jou… hoe gaan jy
die einde van die maand haal op dit wat jy in jou rekening oor het? Nog erger, hoe gaan jy die paaiement
bekostig? En as jy die minimum paaiement
betaal het, bly daar ‘n baie klein deeltjie van die fasiliteit oor om die res
van die maand van te leef.
Jou gedagtes
maal en maal. Jy onthou dat jou huwelik
ook deur ‘n moeilike tyd gaan. Jou
gemoed sak in jou skoene as jy onthou jou kind het jou ook gevra om te onthou
om die skoolfonds te betaal… en dat hy ander skoene nodig het.
Alhoewel die
scenario fiktief is, is daar baie mense wat elke dag voel asof hul nie meer kop
bo water kan hou nie. Hulle is
ongelukkig by die huis… ongelukkig by die werk… sukkel finansiëel… daar is geen
lig in die tonnel nie.
Daar is
hoop. Neem elke gedagte gevange deur dit
te meet aan God se wil vir jou lewe. As
kinders van God behoort ons nooit te dink iets is onmoontlik of te moeilik vir
God om in te gryp of te verander nie.
Die bose lê altyd op die loer en probeer jou oortuig dat daar geen hoop
is nie… dat jy ‘n doodloopstraat bereik het… dat die fout by jou lê. Wyk satan!
Neem jou lewe terug, want dit is nie oor terwyl daar nog ‘n God in die
hemel is nie.
No comments:
Post a Comment