Job 37 : 21 “Wees waaksaam! Draai weg van die kwaad! God het juis swaarkry oor jou gestuur om jou
weg te vat van sonde.”
Beide my en my
seun se paspoorte het verval. Op die
internet sien ek dat Binnelandse Sake Saterdae oop is. Dis ‘n bonus, want nou hoef ek nie by die
werk af te vra nie. Saterdagoggend is
ons dou voor dag op. Dit reën ligweg,
maar ons is geestelik voorberei vir ‘n lang dag wat ons geduld tot die uiterste
sal beproef. Min het ons besef hoeveel
ons beproef sou word.
Ons stap by
die winkel in waar hulle ID foto’s neem, net om te hoor dit is nie meer nodig
om foto’s saam te neem nie. Great! Nou vir Binnelandse Sake. Die rye is skrikwekkend. Ek besluit om solank vorms te gaan kry en
beur tussen die rye deur. Ek word gestop
deur ‘n veiligheidswag. “Jy mag nie
vorms wegneem nie,”spreek hy my kwaai aan en buitendien moet ek in die ry loop
staan. Ek vra nog of mens jou ID nodig
het, maar hy’t genoeg gehad van my. Een
van die wagtendes antwoord dat dit wel nodig is. My seun is nog nie gewoond om sy ID saam te
dra nie, so ons ry huis toe om die ID te gaan haal.
Ons besluit om
Paarl toe te ry. Daar is 2 rye, so ons
stel eers vas in watter ry ons moet inval.
Die ry is lank, maar lyk darem minder intimmiderend as Bellville
s’n. Na twee uur se staan saam met my
mede-landsburgers, ken ons mekaar al heelwat beter. Almal is in ‘n gemoedelike stemming, amper
soos destyds tydens die 1994 verkiesing.
Elfuur kom ‘n
beampte uit. Sy beveel aan dat ons
omdraai, want hulle gaan ons nie kan help nie.
“Wat!?” Die mense is ongelukkig
met hierdie nuus. Dit is nog twee ure
voor hulle toemaak! Sy weet, maar sy wil
net sê, hulle gaan dalk nie eens almal wat binne is kan help nie. As ons teen half een nog nie binne is nie,
moet ons weet dat hulle ons nie kan help nie en dan moet ons haar nie blameer
nie. Die deur word summier in ons
gesigte toegemaak.
Na so ‘n paar
sommetjies, besluit ek en my nuwe vriende om te wag. Dis darem nog lank voor half een. Nou raak die geselsies selfs meer gemoedelik
met die dat ons almal in dieselfde bootjie is.
Kort-kort kom mense uit, maar hulle laat niemand in nie. Die mense dring aan om die bestuurder te
sien. Tien voor twaalf kom die
sogenaamde bestuurder uit. Hy is niks
meer simpatiek nie. Hy het ‘n lang
storie oor min personeel, stadige stelsels en 300 mense wat in 5 ure gesien
moet word. Die mense is oproerig, maar
hy hou by sy storie. Die deur bly
toe. Ons bly koppig staan.
Kwart oor 12 kom
die eerste beampte weer uit. Sy is nou
baie moeilik. Ons moet huis toe
gaan. Iemand wys haar daarop dat sy gesê
het ons kan nog tot half een ingaan. Nog
iemand wys haar op die “We Care” woorde op hul plakkate waarop sy
antwoord. “My gesin care ook hoe laat ek
huis toe kom. Gaan huis toe, want ek vat
my handsak 13h00 en dan loop ek of julle hier wag of nie.”
Kyk, ons is
almal mense met geliefdes, so ek het begrip vir haar situasie, maar as ek
kliënte so behandel by my werk, is ek dieselfde dag nog werkloos. Die verskil is dat die maatskappy waarvoor ek
werk afhanklik is vir hul voortbestaan van hul kliënte. Binnelandse Sake is van niemand afhanklik
nie, inteendeel ons is van hulle afhanklik.
Uiteindelik besef ek dat jy nie teen donderweer kan baklei nie en stap
weg. My kosbare Saterdag is daarmee
heen. Ure se wag en dit vir niks!
Druipstert ry
ons huis toe, maar onthou dat ons, ons Telkom internet moet aanvul. Dis maandeinde en die sentrum se parkeerplek min. Ek laai my seun af om so lank in die tou te
gaan staan en gaan parkeer kilometers weg.
Toe ek uiteindelik by hom uitkom moet ek sien dat Telkom se kantoor toe
is. Die perseel is onder konstruksie. Volgens die plakaat moet ons na hul tydelike
kantoor gaan. Die tydelike kantoor
bestaan uit ‘n toonbank en twee personeellede wat daar sit sonder ‘n rekenaar
of ‘n stukkie papier. Al wat hul doen is
om jou te sê dat hul jou nie kan help nie.
Gaan koop lugtyd by Ackermans en skakel dit om in data.
By Ackermans
is daar weereens ‘n lang ry, maar ons is mos nou al braaf genoeg om ons nie
deur ‘n ou rytjie te laat afskrik nie. Na
twintig minute verwittig die kassiere ons dat sy ongelukkig nie Telkom lugtyd
het nie! Ek en my seun stap verslae
terug na die motor.
By die
verkeerslig is die pyltjie wat jou kans gee om regs te draai buite
werking. Ons kyk vir mekaar en bars uit
van die lag.
“Iewers moes
ons gesondig het om so ‘n dag te verdien,” sê my seun. “Nou moet die Bokke nog net vandag verloor!”
PS: Die saga duur voort. Vier dae later en Telkom is steeds van lyn
af. Ek het weer die Binnelandse Sake ry
aangedurf en na 3 ure se wagtyd, was ek 4de van vooraf en word ons weereens
gewaarsku dat ons kan wag, maar dat daar geen belofte is dat ons ingelaat sal
word nie. Ons is so ongeveer 15
bittereinders, want 15h00 is die ry reeds gewaarsku dat jy moet omdraai, want
as jy 16h00 nie binne is nie, , gaan hulle jou nie help nie. Die vyftien se moral is hoog. Grappies oor ‘n skrum om in te kom en
Habashwe word gemaak en ons besluit saam om te bid. Gebed en ‘n positiewe houding werk! Tien voor 4 word ons almal uiteindelik in die
uitverkose binnekring toegelaat. Mission
accomplished! Gedurende die wagtyd in
rye, het ek ongelooflike mense leer ken en besef hoe meer verskillend ons is,
hoe meer ooreenkomste is daar. Dalk het
God tog ‘n rede gehad met hierdie beproewing.
No comments:
Post a Comment