Levitikus 19:15 “Jy mag nie
onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat
geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie
In ‘n onlangse uitgawe van Huisgenoot lees ek een van die
hartseerste ware verhale wat ek al ooit gelees het.
Jare gelede het ‘n gesinslid haar suster in ‘n gestig laat
opneem omdat sy swanger geraak het by ‘n plaaswerker. Volgens hierdie gesinslid het sy dit gedoen
omdat haar pa die vrou sou doodslaan as hy sou uitvind van die
swangerskap. Dit het weliswaar in die veertigs
gebeur, toe buite egtelike swankerskappe ongehoord was, wat nog te sê oor die
kleurgrens heen. Omdat die vrou reeds 38
en geskei was, wou geen tehuis vir ongehude moeders haar inneem nie. Die gesinslid het toe die plaaslike dokter
oortuig om haar as geestessiek te sertifiseer.
Regverdig dit die daad?
Verseker nie. Gaan dit enigsins aan die situasie verander? Ongelukkig nie. Die arme vrou het jare lank in ‘n gestig vir
verstandelik gestremdes deurgebring. In
die laat negentigs het die regering van hierdie mense ‘vrygelaat’ omdat hul op
hul eie kon funksioneer. Geen familielid
wou haar inneem nie en sy’t haar laaste jare in ‘n vensterlose kamertjie met
haar enigste vriendin uit die gestig deurgebring.
Ons kan nie oordeel nie, want ons ken nie die volle verhaal
nie, maar ek wonder tog: “Hoe kan een
mens oor ‘n ander se toekoms besluit en daardie persoon se hele toekoms
vernietig?” Die baba is aangeneem en ook
sy lewe is onherroeplik beinvloed.
Een ding weet ek… dat die lewe nie regverdig is nie en dat
geregtigheid nie altyd geskied nie.
Hierdie vrou is oorlede sonder dat enige van die familie ooit hul
aandeel in die ontsporing van haar lewe erken het nie.
Soms dink ons dat dit wat ons doen die beste is, maar ons
besef nie altyd die omvang van ons dade nie.
Niemand het die reg om iemand van hul toekoms en drome te ontneem
nie.
No comments:
Post a Comment