Jesaja 48 : 13
Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek
die hemelkoepel oopgesprei
Voel jy ook
of jy die hele wereld op jou skouers rus?
Buiten jou eie probleme, dra jy ook swaar aan jou kinders en/of ouers se
probleme. Net soos jy dink jy kan
asemskep, tref die volgende hou jou.
Dalk het jy ook nog probleme met jou motor, skoonouers, finansies, ‘n
lekkende dak, wankelende verhoudings… die moontlikhede is net so legio soos jou
probleme.
In New York, by die Rockefeller
Sentrum, is daar ‘n brons standbeeld van die griekse god, Zeus, wat ‘n aardbol
op sy skouers balanseer. Zeus is
gespierd, maar dit lyk amper asof hy beur en steier om die beeld omhoog te hou.
In teenstelling met hierdie beeld,
dink ek aan die liedjie: “He holds the
whole world in His hands…”
Interessant dat die St Patrick’s Katedraal oorkant die straat van hierdie beeld staan. Binne die katedraal is daar ‘n uitbeelding
van die geboorte van Jesus… die een wat gekom het om al ons probleme en sondes
op Hom te neem.
Ek en jy wil die wereld en al sy probleme
op ons skouers laai, terwyl God dit in Sy twee hande vashou. Daar is geen rede hoekom ons so moet ‘suffer’
nie. God wat die heelal geskep het, hou
hierdie bolletjie waarop ek en jy woon in die holte van Sy hand. Hy kreun, beur en steier nie onder die gewig
daarvan nie. Hy is ten volle in beheer
van alles. Een beweging van Sy hand en
alles verander.
Laat ons nie op ons eie kragte
staatmaak of probeer om Zeus te wees nie, maar ons swakheid en afhanklikheid
van God erken en Hom vra om oor te neem.
Hy is heeltemal in staat om daardie las van jou te dra.
No comments:
Post a Comment