Matteus 3 : 2 Bekeer julle,
want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Is daar in jou lewe sekere gewoontes wat jy graag sou wou
verander? Ek kan aan ‘n hele paar in my
eie lewe dink wat ek sou wou verander.
Uit ondervinding weet ek egter dat dit nie so maklik is nie. Dit gaan
dalk ‘n dag of twee goed, dan verval jy maar weer in jou ou gewoontetjies.
Gewoontes is nie al waaraan ons voortdurend moet werk nie,
soms is dit die tendens om negatiewe gedagtes te koester of ‘n ongesonde
houding. Ongelukkig raak hierdie dinge
so deel van ons lewe dat ons soms nie eens besef ons houding stoot ander af of
dat ons konstant negatief is nie. Indien
jy nie eerlik genoeg met jouself is om probleemareas te identifiseer nie, vra
gerus iemand naby aan jou se mening.
Wat jy ookal wil verander, dit begin met die verandering van
jou denke. Jy moet jou denke verander sodat
dit in lyn is met God se denke. Kan jy
aan een voorbeeld dink van God wat negatief is of ‘n verkeerde houding
het? Nee, so ons kan gerus Sy voorbeeld
volg.
Dit is moeilik om jou in te dink hoe koud ‘n behoorlike
Kaapse Wintersdag is, op ‘n snikhete Kaapse Somersdag. Die hitte, en natuurlik die berugte
Suid-Ooster is al waaraan jy kan dink terwyl die son neerbak en elke druppel
energie uit jou tap. Wanneer jou lewe om
God draai, is daar ook nie plek vir ander dinge in jou lewe nie. As jy jouself toespits op God se Woord, soek
na boodskappe en inspirasie en die een na die ander wonderlike voorbeeld
raaklees, sal daardie negatiewe gedagtes stadig maar seker wyk. Deurdrenk van positiewe energie uit God se
woord, sal jou houding insmelt met dit wat Hy vir jou beplan het.
Deur God se beloftes in ‘n mantra te omskep gaan jy jou lewe
verander. “God beplan goeie dinge vir my… Ek is tot alles in staat deur God wat
my die krag gee… Ek is so spesiaal dat God my naam in die palm van Sy hand
geskryf het… Ek is uniek…”
Verander jou denke vandag sodat jy die woorde wat uit jou
mond kom tot eer en verheerliking van Sy naam kan gebruik.
No comments:
Post a Comment