Romeine 4 : 19 – 21 Al was hy
sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was
en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die
belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer
gegee. Hy was ook ten volle daarvan
oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.
Die Bybel is deurspek met voorbeelde van mense wat God
vertrou het vir die onmoontlike. Abraham
was maar een van hulle. God het vir
Abraham beloof dat hy ‘die vader van vele nasies sou wees. Dit het nie sin gemaak nie, want Abraham het
al aangestap in jare en sy vrou was verby die ouderdom waar sy kinders kon
baar. Abraham het nie net aan God se
belofte vasgehou nie, hy was vas oortuig dat God sou doen wat Hy beloof
het. Die belofte is egter nie oornag
nagekom nie. Hy sou amper ‘n eeu oud
wees alvorensGod se belofte sou realiseer.
Volgens vandag se teks, het Abraham hom egter nie in hierdie
wagperiode blindgestaar teen die feite nie.
Abraham het nie na sy eie liggaam gekyk of die vele redes hoekom hy nie
die vader van vele sou word nie.
Inteendeel, hy het na God se getrouheid gekyk… na Sy almag en krag… en voortdurend het hy God geprys. Abraham het geloof prakties toegepas wat God
toegelaat het om te doen wat Hy moes.
Waarvoor vertrou jy vir God?
Is jy amper te bang om dit hardop te uiter omdat dit in jou oe onmoontlik
lyk? Dink jy dat dit nie eens die moeite
werd is om daaroor met God te praat nie?
Het jy al gebid en niks gebeur nie?
Verskuif jou fokus vandag van die aardse realiteite na God
se realiteite. Is God ‘n waarmaker van Sy Woord? Het Hy al vantevore vir jou deurgekom? Is daar getuienisse van mense wat jy weet in
wie se lewens God die onmoontlike vermag het?
Wel, jy is niks minder in God se oe as Abraham of enige
ander persoon nie. Net soos wat God
geweet het wat Abraham se hartewens was, so weet Hy ook van joune. Praat met Hom daaroor en begin om Hom te loof
en prys omdat jy onwrikbaar glo dat Hy jou gebede sal beantwoord. Geloof is gewoonlik die sleutel wat God nodig
het om deure vir jou oop te maak.
No comments:
Post a Comment