1 Korintiërs
10 : 13 Geen versoeking wat meer is as
wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie
toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal
Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.
Het jy al gevoel asof jy op elke manier misluk en
dat niks in jou lewe glad wil verloop nie?
Elkeen van ons het al teleurstelling of onregverdigheid beleef. Sulke tye is dit maklik om oorweldig te voel
en te dink dat jy nooit daaroor sal kom of dit nooit sal oorleef nie.
Die lewe is ‘n hekkieswedloop. Jy hardloop voluit en spring oor die
hekkies. As jy te moeg is, gaan jy die
hekkie omstamp, maar moenie ophou hardloop nie.
Dit is daar vir ‘n rede, maar nie onoorkombaar nie.
Die wonder is dat God beloof dat Hy ons nooit bo
ons vermoë sal beproef nie. Ons dink so
maklik ons kan nie meer nie, maar genadiglik voorsien God ons ook met die krag
om elke situasie te kan oorkom.
As jy vandag oorweldig voel deur jou omstandighede,
weet net dat met God alles moontlik is.
Geen siekte, hoogte of diepte (probleme of uitdagings) kan ons van Sy
liefde skei nie.
Herinner jouself weer daaraan dat God goeie planne
vir jou het. Daarom kan niks of niemand
jou terughou nie.
No comments:
Post a Comment