Kolossense 3 : 12 Julle is die mense wat God uitverkies het om Syne te
wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid,
sagmoedigheid, geduld.
Soms werk verhoudings nie uit soos wat ons gehoop
het dit sal uitwerk nie. Die ander
persoon tree nie op soos wat ons wil hê hy/sy moet optree nie of hulle is
eenvoudig nie soos wat ons gedink het hul is nie. Die fout lê gewoonlik by die ander party,
nooit by onsself nie. Dus verwag ons dat
hy/sy verander sodat dinge beter kan gaan.
Dit werk ongelukkig nie so nie. Of die ander persoon nou jou moeilike baas
is, jou wederhelf, jou opstandige tiener, jou ouers… Verandering begin by jou. Jy
moet verander! Doen jou deel en God sal
die res doen.
Ja, ek weet dit klink nie regverdig nie, want jy
glo steeds die fout lê nie by jou nie.
Laat egter toe dat God jou verander, want Hy gaan nie die ander persoon
verander nie. Trek die regte ‘klere’ aan.
Staan soggens op met die gedagte: “God, ek weet vandag gaan nie maklik wees
nie. Vorm my en maak my die persoon wat
U weet ek kan wees. Ek kan alles
hanteer, want U is met my.” Neem ‘n
wilsbesluit om die res van die dag in hierdie staat van kalmte te bly. Kies God se manier eerder as jou eie, want
heel moontlik het jou eie planne tot nou toe nie gewerk nie.
No comments:
Post a Comment