Johannes 1 : 16 Uit sy oorvloed het ons almal genade op
genade ontvang.
Voel jy ook soos
‘n hamster op sy wieletjie? Elke oggend
staan jy op, drink koffie, borsel tande, gaan werk toe, werk soos ‘n slaaf,
keer huiswaarts, doen jou huistake, val in die bed, slaap, staan op... Daar is geen afwisseling in jou sieldodende
roetine nie. Jy is so moeg van jou
wieletjie of die baan waarom jy in sirkels hardloop.
Daar is diegene wat alles sal gee om self te
kan opstaan om werk toe te gaan, maar as invalide is dit hul nie beskore
nie. Daar is diegene wat met liefde jou
vervelige werk sal doen, want as werklose het hulle geen vooruitsig om ‘n
salaris te ontvang aan die einde van die maand nie. Daar is diegene wat alles sal gee om jou
‘stout’ kinders of veeleisende man/vrou te hê, want hul gesin is deur die dood
weggeneem. Daar is diegene wat alles sal
gee om te kan lewe, maar hul ly aan ‘n ongeneeslike siekte en weet dat die
uurglas vir hul leeggeloop het.
Wanneer
jy hierdie sleurtake as genade sien, sal jou hele uitkyk op die lewe
verander.
No comments:
Post a Comment