1 Samuel 17 : 26 Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra:
“Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn
daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy
die linies van die lewende God verkleineer?”
Interessant om te weet dat Dawid nooit na Goliat as
‘n reus verwys het nie. Ander het na
Goliat as ‘n reus verwys, maar nie Dawid nie.
Sodoende het Dawid geen erkenning gegee aan dit wat ander omtrent Goliat
gedink het nie. Hy het Goliat verklein in sy geestesoog deur na hom as ‘n
onbesnyde Fillistyn te verwys. So iemand
was minderwaardig, onheilig en het nie ‘n verbond met God gehad nie. Daarmee het Dawid ook besef dat Goliat dus
nie dieselfde guns as hy, kind van God, kon verwag nie.
Begin jy sien hoekom Dawid wel ‘n kans teen Goliat
gehad het? Dawid het besef dat God se
liefde vir en al sy beloftes, die enigste wapens was wat hy nodig gehad het.
Die les wat ons hieruit kan leer, is dat ons te
veel maak van ons probleme. Ons mor en
tob oor hulle, vertel vir almal van ons laste en laat toe dat hul ons vreugde
steel. Dalk het dit tyd geword om ons
probleme te begin hanteer met die minagting wat hul verdien.
No comments:
Post a Comment