Josua 6 : 1
Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het
uitgegaan of ingekom nie.
Hoofstuk 6 van die boek Josua, begin op ‘n
relatiewe donker toon met die Israeliete wat min of meer gevange is binne
Jerigo. InVers 2 bring God hoop. Die
Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou
mag oorgee.
Jy sou dink dat daar iets aardskuddend sou
plaasving, maar dan sê God vir Josua dat hy 6 dae lank om die stad moet loop en
op die sewende dag moet hul op die ramshorings blaas. Wat sou jy gedink het van so ‘n opdrag? Ek
weet ek sou skepties gewees het.
Die prentjie van Josua en sy mense wat soos
miertjies buite hierdie stadsmuur staan, mismoedig en wanhopig, vergelyk goed
met meeste van ons wanneer ons ‘n onoorkombare probleem in die gesig
staar. Ons kyk egter een ding mis. Josua het die guns en beloftes van ‘n
almagtige God gehad. Josua was nie
verslae nie, want hy het geweet God is aan sy kant en dat God alreeds die
oorwinning bepaal het. So die crescendo
van die verhaal het amper nie die effek wat jy sou dink dit moet hê nie, want
ons weet reeds… die mure het toe geval.
Moenie vandag kyk na die mure in jou lewe
nie. Kyk na die beloftes van God. Onthou
bietjie vandag oor watter mag en krag Hy beskik. Beweeg vorentoe in geloof en gehoorsaamheid,
wel wetend dat niemand ‘n kans staan teen jou as God vir jou is nie.
No comments:
Post a Comment