Jesaja 43 : 2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie
skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
Het jy al ooit ‘n tree in geloof gegee? Het jy al iets gedoen omdat jy gevoel het God
verwag dit van jou, maar dat dit geensins sin maak nie?
Glo my, dis nie maklik om God se roepstem te volg
nie. Wat Hy van jou verwag, maak selde sin en daarom wil ons nie sommer daardie
eerste tree gee nie. Ons wil wag totdat
alles in plek val of totdat dit die logiese stap is.
Jy is dalk sielsongelukkig by die werk en jy wil
jou eie onderneming begin, maar jy wil eers genoeg geld bymekaar maak.
Jy sien, God verwag juis van ons om daardie stap te
neem terwyl daar geen waarborge op sukses is nie. Al wat jy moet doen is om te sê: “ok, God dit maak nie sin nie en dit is ‘n
massiewe risiko, maar hier gaan U en ek.”
Dis dan dat God die water in twee deel, soos met Moses en die
Israeliete. Dis wanneer God jou na plekke neem wat jy nooit gedink het jy jou
ooit sal begewe nie.
Party mense wag vir ewig dat die water moet skei
alvorens hul die eerste tree gee en so loop hul soveel mis. Gehoorsaamheid is wat die water laat
skei. Jy dink dalk jy wag op God, maar
God staan en wag vir jou. As jy doen wat
God van jou verwag, dan aktiveer jou gehoorsaamheid sy guns, sukses en
ongekende sukses.
Meeste dinge wat langs die pad gebeur is eenvoudig
klein toetsies om jou voor te berei op die uiteindelike eksamen. Jy’s gereed.
No comments:
Post a Comment