Klaagliedere 5:20 Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd
verlaat?
O, Here vandag kom ek na U toe met al my seer en al
my smart. Ek voel soos ‘n drenkeling,
Here. Ek verstaan nie hoekom hierdie dinge gebeur
nie. Net soos ek dink ek kan asemhaal,
dan slaan ‘n brander my weer te pletter.
Hoekom al hierdie aanslae, Here? Ek weet U beloof dat U my nie bo my vermoëns
sal beproef nie, maar ek begin wonder, Here.
My kragte raak al minder. My
liggaam is broos en seer. Die ergste van
alles is dat daar geen sigbare merke van hierdie aanslae teen my op my liggaam
te bespeur nie. Op die oog af mag mense
selfs dink ek het geen sorge nie, want ek steek dit so goed weg. Die seer is hier binne, Here. Ek kan met niemand daaroor praat nie. Die skande is te groot. Waar begin ‘n mens in elk geval. So krop ek dit maar op en so reën die aanslae
op my neer. Soms is daar ‘n venster van
genade. Dan probeer ek ook lag en vrolik
wees, maar kort voor lank word ek weer aan die stryd herinner… kom die pynlike
herinneringe weer by my op. Dit is besig
om my te ruineer en dit verander wie ek is.
Die vloek… die sondes van die vaders… Waar gaan dit alles eindig,
Here?
Vergewe my hierdie oomblik van
selfbejammering. Bewaar my van die bose,
Here. Deur dit alles weet ek dat U
alleen my hoop en my uitkoms is.
No comments:
Post a Comment