Het jy al ooit ‘n staatshospitaal besoek? Indien nog nie, wil ek jou uitnooi om dit te
doen. Daarna sal jy nooit weer kla oor
die maandelikse tarief wat jy vir jou mediese fonds betaal wat sal verseker dat
jy behoorlike mediese hulp kan kry as jy dit eendag nodig het nie.
Ek het die onbenydenswaardige ‘voorreg’ gehad om
iemand daar te besoek. Sommer nog voor
jy instap, lyk dinge al verwaarloos.
Stap jy by ongevalle in, is daar massas mense wat wag. Al weet jy nie waarheen om te gaan, is daar
nie ‘n navrae of ontvangs nie. Die
wagtende pasiënte is jou enigste hoop. ‘n
Man beduie in die rigting van swaaideure. “Mag en daar ingaan?” Hy beduie weer.
Anderkant die deure lyk dit erger. Die gange is skemerdonker en koud al skyn die
wintersonnetjie ylweg buite. Ek soek ‘n
ontvangs of ‘n lid van die verpleegpersoneel.
Niks. Ek hoor stemme verder in
die gang. Hier sit personeel en
eet. Ek vra waar ek die pasiënt sal
vind. Met ‘n mondvol hoender en vet wat
by die mondhoeke uitloop, word ek gesê om in die gang af te gaan na die
manssaal. Ek draai verstom om. Halfpad in die gang af skree ‘n manlike
personeellid agter my aan dat ek deur die dubbeldeure en nog ‘n saal moet stap en
dan die pasiënt sal vind.
Daar aangekom, lê die persoon in ‘n skoon bed. Dis 14 grade buite. Die persoon het ‘n agterstevoor hospitaal
jurk aan. Een van daardie komberse wat
jou nie warm maak nie, lê opgerol eenkant en ‘n laken is al wat hom warm moet
hou. Bo sy bed hang ‘n leë drip. Die pypie gaan nie in sy arm in nie, maar
krul onder ‘n staalbedkassie sonder handvatsels in. Die naald is steeds in sy arm. Op die bedkassie is ‘n blink bakkie met ‘n
naald en bloed in. Langsaan staan ‘n
plastiekhouer met ‘n spuitnaald en ‘n pienk vloeistof daarin. Sy baard is lank. Om sy mond ‘n oranje smeersel. Oorskiet pampoen, hoor ek later. Sy liggaam amper gelyk met die plastiek
matras... maer, ondervoed. Die mond ingesonke… van die
valstande is daar geen teken nie.
Die oë vlieg verwilderd oop. “Ek is dors… en honger. Ek kry koud.
Dis verskriklik koud. Ek stap uit
en gaan soek op ‘n Saterdagmiddag ‘n oop winkel in ‘n dorp waar alles eenuur
sluit. Ek kry ‘n kombers en koop ‘n
sappie met ‘n tuit soos wat kinders uit drink.
Terug by die hospitaal neem twee bewerige, benerige hande die bottel. Ek help om dit tot by die lippe te kry. “Here, dis lekker koeldrank, die. Waar het jy dit gekry?” Die tongetjie lek bewerig oor die lippe om
elke druppeltjie in te neem. Ek lig die
laken op terwyl ek sy waardigheid probeer bedek, posisioneer die kombers en
plaas die hospitaalkombers en laken bo-oor.
“Dankie,” word daar geprewel. Ek
bid dat niemand die kombers sal steel nie.
Ons groet… albei wonder of ons mekaar weer sal
sien. Ek loop in ‘n waas van trane daar
uit. Die swaaideure waardeur ek sonder
sukkel ingekom het, verg nou ‘n kaart om uit te kom. Ek gaan soek ‘n personeellid om hul kaart te ‘swipe’. Ek wil uit.
Ek wil die sonlig op my liggaam voel.
Ek wil bid… vir genade, maar ek weet nie of ek vir genesing moet bid
nie. Is die lewe binne daardie mure
enigsins slegter as die lewe hier buite?
Is dit hoe iemand behandel word wat sy lewe lank
gewerk het… altyd ‘n bydrae tot die samelewing gemaak het. Ja, hy het foute gemaak wat die oorsaak is dat
hy vandag in eensaamheid die dood inwag, maar is dit reg?
No comments:
Post a Comment