Josua : 19 : 50 Josua het die
stad herbou en daar gaan woon.
Ek het onlangs vir my die basiese benodigdhede gekoop
om ‘n bietjie mosaiekwerk te doen. Dit
was nogal lekker om die patroontjie uit te pak en elke teëltjie vas te gom
alvorens ek noukeurig die teëlsement aangemaak en tussen die teëltjies ingewerk
het.
Dan die wag totdat alles droog is en uiteindelik
kan my produk gepoleer word en uitgestal word.
Met mosaiekwerk, moet jy die teëltjies breek sodat
hul oral kan inpas en ‘n pragtige patroon vorm.
Wanneer ons deur die smeltkroes van die lewe gaan,
breek ons ook partykeer. Ons lê in
stukkies voor die Meester. Hy tel elke
stukkie op en pas dit op presies die regte plek om weer ons prentjie mooi te
maak.
Wanneer ek so verdiep is in my mosaiek kunswerk,
kan hoor en sien maar vergaan, ek fokus net op die teëltjie waarmee ek besig
is. Ek weet dat hy maar net ‘n breukdeel van die geheel is, maar hy kry
dieselfde aandag as elke ander teëltjie.
Sonder die gom en grout, die sponsie en uiteindelike polering, sal my
prentjie nie volmaak wees nie.
Ek glo dat God ook so op ons fokus wanneer Hy die
stukkies weer bymekaarsit. Hy is nie
ongeduldig of oorhaastig nie, want Hy weet hoe die uiteindelike prentjie moet
lyk.
Vertrou die Groot Kunstenaar. Jy is die meesterwerk way Hy besig is om te
herbou.
No comments:
Post a Comment