Job
39 : 3 Wie gee vir 'n kraai die kos wat
hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om
te eet?
‘n Kollega van my was verlede week vir toetse en het
gister die uitslae ontvang… basale kanker.
Sy en haar gesin gaan reeds deur so ‘n moeilike tyd, en nou nog dit
ook. ‘n Ander kollega se seuntjie is
Saterdagnag oorlede… wiegiedood. Hoe vertroos jy so ‘n ouer?
Dis heel normaal om dan ‘hoekom en waarom’ vrae te
begin vra.
Elkeen van ons het ons eie reis en die paaie is nie
altyd in ‘n goeie toestand nie. So graag
as wat ons elkeen die skouspelagtige roete wil ry, (dalk daar rondom
Chapmanspeak of Bettiesbaai) neem die reis ons ook op minder bekende
agterpaaie… dalk omdat ons ‘n verkeerde afrit geneem het. Soms beland ons op paaie vol slaggate. Ander kere is dit uitdagende bergpasse wat
ons moet navigeer. Soms is dit soos spitsverkeer… behalwe dat frustrasie opbou,
wil niks gebeur nie.
Alhoewel ons van tyd tot tyd mede-reisigers gaan
teekom, is dit meesal ‘n solorit.
Wanneer ons dan met God gesels of redeneer, moet ons dalk onthou dat God
veel meer ervaring as ek en jy het. Hy
is uiters bekwaam en in staat om in ons situasie in te gryp. Terwyl ons rebelleer en protesteer, vergeet
ons waarmee Hy elke dag besig is. Lees
maar Job… jy staan verstom. Dit wat ek
en jy nie eens elke dag oplet nie, doen God sommer so tussen al die
gebedsversoeke, klagtes en treurmares deur.
As hy seker maak dat ‘n kraai se kleintjies versorg
is, hoekom sal Hy nie ook daar wees vir dit waardeur ons gaan nie. Ons mag dit dalk nie verstaan nie en dit mag
dalk onregverdig voorkom, maar dit beteken nie dat God nie in beheer is en nie
ook hiermee ‘n doel het nie.
Laat ons God toelaat om dit te doen waarmee Hy die
beste is… lief wees vir elkeen van ons… met elke tree wat ons gee, elke paadjie
wat ons ry, elke slaggat wat ons tref.
No comments:
Post a Comment