Psalm 16 : 5 & 6 Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek
ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige
deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
Het jy al ooit voorraadopname oor jou lewe
gedoen? Omdat ons so met slegte nuus
gebombardeer word, is ons geneig om net die slegte raak te sien of te onthou. Selfs wanneer ons bid fokus ons op die
negatiewe deur vir God ‘n lysie te gee van dit waarmee ons hulp nodig het.
Dalk moet ons fokus op die positiewe. Sien God se versorging en beskerming
raak. Let op hoeveel daar reeds ontvang
is en waardeer dit eerder as om te verlang na nog. Begin met nuwe oë na jou omgewing kyk. Wanneer jy besef dat jou werk ‘n gawe van God
is, kyk jy met ander oë na jou salaris, voordele en baas. Wanneer jy opstaan na ‘n goeie nagrus, het jy
meer waardering vir jou bed, die dak oor jou kop en ‘n koppie warm koffie of
tee. Moenie opsien na die sleurtakies
soos toebroodjies inpak en skoonmaak nie, waardeer dat jy iemand het om dit
voor te doen. As jy gesond en mobiel is,
dink aan hulle in hospitale en in rolstoele.
Indien jy winkel toe kan gaan om voorraad aan te vul, moenie oor die
pryse kla nie, wees bly dat jy dit wel nog kan bekostig. Daar is soveel wat geen inkomste het nie.
‘n Dankbare hart lig jou sommer vinnig uit die diepste
put.
No comments:
Post a Comment