Job 39 : 1 “Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir
hom genoeg gee om te eet
Ons het 3 honde en ‘n kat, budgies en vissies. Elke oggend en aand kry hulle kos. Ek weet presies waarvan elkeen hou en maak
seker dat hul bordjies so gevul word.
Snags maak ons seker dat elkeen ‘n veilige, droeë en warm slaapplekkie
het. Indien ons by uitsondering sou
weggaan vir ‘n naweek, kry ons ‘n ‘petsitter’ om hul te versorg sodat hul nie
ontwrig word deur byvoorbeeld in ‘n kennel te gaan bly nie.
Dit klink seker na ‘n dierehemel, maar ek glo dat jy ‘n
verantwoordelike diere eienaar moet wees.
As jy ‘n troeteldier wil hê, moet jy na hom of haar omsien, selfs al is
hul nie meer die oulike babahondjie of katjie wat jou aanvanklik genoop het om
hom/haar aan te skaf nie. Ons een hond is al so oud, sy is op hartmedikasie. Die ander enetjie is blind in haar een ogie en doof. Ook ons kat is doof en blind sedert sowat 6 maande gelede. Dit beteken egter nie dat ek hul moet laat uitsit nie. Hul het nou eers liefde en aandag nodig. Al die jare het hul my oorlaai met liefde en toewyding, nou is dit my beurt om hul te bederf en 'n gerieflike 'oudag' te verseker.
Mense wat nie na hul troeteldiere omsien nie, moet
myns insiens die voorreg ontsê word om een aan te hou. Hoekom?
God het die mens aangestel oor die dier.
As jy ‘n ‘baas’ wil wees, moet jy ook optree soos ‘n baas. God is ‘baas’ oor die diere en as jy deur Job
lees, kry jy eintlik ‘n les in diereversorging.
As God die mens na Sy beeld geskape het, behoort ons ook Sy voorbeeld te
volg op hierdie gebied.
Die maat waarmee ons meet, is ook die maat waarmee ons
gemeet sal word. Wees goed vir jou diere
en versorg hul met liefde en toewyding… dit is immers hoe jy versorg word deur God.
No comments:
Post a Comment