Romeine 11 : 29 As God eenmaal aan mense sy genadegawes
geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.
Hoe sien jy jou toekoms? Is jy vol hoop en drome, of het jy so ‘n
bietjie spoed verloor?
Miskien was jy op ‘n stadium vuur en vlam, met groot
doelwitte, maar toe werk dinge nie heeltemal uit soos wat jy gedink het
nie. Teleurstelling en mislukking is net so deel
van die lewe soos opwinding en sukses.
Ek kan jou verseker dat niemand voortdurend suksesvol is nie. Die verskil tussen iemand wat sukses behaal
en iemand wat dit nie maak nie, is dat eersgenoemde aanhou probeer.
God se plan vir jou lewe het nie weggegaan net omdat
jy van jou droom afgesien het nie. Hy
weet van elke verkeerde keuse wat jy gemaak het, van elke persoon wat jou
teruggehou het, van elke teleurstelling… en steeds roep Hy jou om te wees wie
Hy jou geroep het om te wees. Sy plan vir jou lewe is perfek.
Raak stil, vra na Sy wil en volg waar Hy jou lei. Wanneer jy weer begin droom en jou visie in
lyn met God se visie vir jou is, sal die res van jou lewe die beste deel van
jou lewe wees… gewaarborg!
Die een ding wat jy dalk tot nou toe uit die oog
verloor het, is dat God nooit teruggaan op Sy planne of woord nie.
No comments:
Post a Comment