1 Konings 17 : 9
&12 “Gaan na Sarfat toe by Sidon en
gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg. ”Toe sê
sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol
meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar
houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te
eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”
Verlede week lees ek in die koerant van ‘n dame wat by
Pep stores tydelik as kassier gewerk het.
‘n Vrou kom koop kinderklere en sy knoop ‘n geselsie aan. Sy hoor dat die klere vir mishandelde kinders
is en haar hart vermurwe. Sy luister na
die stemmetjie wat haar oortuig om haar laaste paar rand vir hierdie vrou te
gee: “Ek wil ook bydra. Dit is al wat ek het, maar dalk help dit.” Natuurlik wou die vrou dit nie neem nie, maar
die kassier het aangedring.
Hierdie kassier sou nooit weet hoe daardie laaste R9
van haar deur God vermeerder sou word nie.
Die vrou het dit vir haar seun vertel, wat dit op sosiale media versprei
het en ‘n veldbrand is aangesteek. Mense
het na die winkel gestroom om hierdie kassier te ontmoet en haar te prys vir
haar onbaatsugtige bydrae. Iemand het
haar en haar seun uitgeneem die Sondag vir ‘n vyfgang maaltyd. En Pep Stores het haar permanent aangestel
vanaf 1 Augustus.
Elia moes darem gewonder het oor God wat hom stuur met
die belofte dat ‘n weduwee na hom sou omsien.
Hoekom stuur God hom nie na ‘n ryk man wat genoeg opgegaar het nie? Jy sien, daar was boonop hongersnood in die
land. Nie net stuur God hom na ‘n
weduwee nie, maar hy moet ook hoor dat sy nog net een maaltyd oor het, wat sy
beplan het om vir haar en haar seun voor te berei. Hoe moes Elia nie voel nie… om hierdie laaste
kos uit haar en haar kind se monde te moet neem.
As dit nie was dat Elia God ten volle vertrou het, al
maak dit nie sin nie, sou hy verseker nie na God se stem geluister het nie. Teen hierdie tyd het Elia genoeg van God en
die manier waarop Hy te werk gaan gesien om nie vrae te vra nie, maar net
gehoorsaam te wees.
Die weduwee het nie geweet wie Elia was nie, maar net
soos die kassier het sy God se stem gehoorsaam, al het dit nie sin gemaak
nie. Beide het hul laaste gegee en beide
is onuitspreeklik geseen.
Here, ook ek vertrou U vandag, al maak dit nie sin
nie. Maak my gehoorsaam en laat my ook
deel in U wonderwerkende krag.
No comments:
Post a Comment