Geld is vir
baie van ons ‘n probleem. Ons het nooit
genoeg daarvan nie. Iemand het eendag
gesê dat geld nie alles is nie, maar dat dit darem baie ongemaklik daarsonder
is. Party mense reken dat geld die
wortel van alle kwaad is. Ek glo nie die
probleem lê by geld as sulks nie, maar eerder by die liefde vir geld.
God is ‘n
jaloerse God. Niks in ons lewe mag
belangriker as Hy wees nie. God weet dat
ons geld nodig het om van te leef.
Hoekom het party mense dan meer as ander?
Jesus leer ons
‘n les in Matteus 25. Vir een het hy vyf
goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan
elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf muntstukke ontvang
het, het dadelik daarmee gaan woeker en ‘n wins gemaak. So ook die een wat twee muntstukke ontvang
het. Die laaste man het egter die een
muntstuk wat hy ontvang het gaan begrawe. Ongelukkig is geld nie ‘n saadjie wat ontkiem
en in ‘n boom ontwikkel wat geld dra nie.
Dit moet
vloei. Geld is nie bedoel om op een plek
te bly nie. As jy aan die bietjie wat
aan jou toevertrou is gaan vasklou (begrawe), gaan dit nooit meer word
nie. Jy moet daarmee woeker. Vra vir God wat dit is wat Hy wil hê dat jy
daarmee doen en begin vandag nog, maar wees gehoorsaam.
God seen sommige
mense met meer omdat geld nie vir hulle belangrik is nie, maar eerder ‘n middel
tot ‘n doel is. Iemand wat werklik ryk
is, sal nooit te koop loop met hul goeie dade nie. Solank jy hard werk daarvoor of goed doen
daarmee, soos wat God jou lei, hoef jy nooit skuldig te voel indien God jou met
baie geld geseën het nie.
No comments:
Post a Comment