Lukas 16:12 As julle met 'n ander man se goed nie
betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
Ons vra
dikwels vir God vir materiële besittings, maar niks gebeur nie. Ons begeer ook ‘n luukse motor, ‘n huis van
ons eie, nie net pap elke dag nie, maar ‘n lekker stukkie steak… ‘n behoorlike
matras… nuwe klere, nie ander se ‘hand-me-downs” nie. Hoekom gee God vir ander in oorvloed en ek
het omtrent niks nie? Hulle glo nie eens
in God nie. Ek glo… ek bid… ek gaan kerk
toe… ek lees my Bybel… Wat is verkeerd?
Ons lees ook
in die Bybel dat ons aan ander moet doen, soos wat ons wil hê dat hul aan ons
doen. Dieselfde geld vir ander se
besittings. Of dit nou die koffie of tee, die werktelefoon, die fotostaat
papier of jou baas se voertuig is… jy behoort daarmee om te gaan asof dit jou
eie is.
Huur jy ‘n
woning by iemand, is dit ‘n goeie idee om te sorg dat die tuin versorg word en
as daar iets klein breek, maak dit self reg.
As jy lank daar bly en dit benodig verf, verf dit.
As jy iets by
iemand leen, gee dit terug in dieselfde of beter toestand, saam met ‘n klein
blykie van waardering.
Bly jy in ‘n
gastehuis of hotel is dit nie nodig om die bad tot bo toe vol te tap of al die
ligte en lugversorger heeldag aan te los nie.
Indien jou
houding is dat dit nie joune is nie, so jy gee nie om nie, het jy die antwoord
op jou vraag in paragraaf een self beantwoord.
God gee jou nie nog nie omdat jy nie betroubaar is met ander se goed
nie.
No comments:
Post a Comment