Johannes 3 : 16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy
enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar
die ewige lewe sal hê.
Corrie ten
Boom was die eerste vroulike horlosiemaker in Nederland. Voor die oorlog het Corrie ten Boom o.a. klubs
vir meisies tussen 12 en 18 jaar vir ongeveer 20 jaar bedryf. Een van die boodskappe wat Corrie gereeld met
hul gedeel het, was oor die liefde van God vir die mens. Met die aanvang van die oorlog, moes die
klubs ontbind. Min het Corrie geweet hoe
belangrik dit eintlik was dat hierdie meisies deel van haar lewe moes word.
Nederland is
binnegeval en die nazi’s se aanslag op Jode het begin. Hul radio’s is gekonfiskeer, ‘n aandklokreël
is ingestel en een aand aand is ‘n klomp jongmans wat hul op straat beving het,
eenvoudig bymekaar gemaak en na Duitsland geneem waar hul as slawe in die
fabrieke sou werk. Baie Joodse families
het eenvoudig oornag verdwyn.
Corrie en haar
familie het heel onskuldig betrokke geraak by die ondergrondse operasie van versteking
en beveiliging van Jode. Dit was juis baie van die meisies wat voorheen aan
haar klubs behoort het (of iemand wat hul weer geken het) wat ‘n kardinale rol
gespeel het om soveel Jode te red. Een
persoon sou help om meer rantsoenkaartjies te kry sodat hul meer kos kon koop
om diegene wat hul versteek het te voed.
Ander sou na die huis kom en ‘n kamer bou waar die Jode sou kon gaan
wegkruip as daar ‘n klopjag op die huis was.
Nog iemand sou laat weet wanneer hul hoor dat ‘n Joodse gesin geteiken
word en dan het die operasie begin om die gesin na veiligheid te smokkel.
Op ‘n stadium
was tot 80 persone betrokke by die beveiliging van Jode. Uiteindelik is Corie en haar hele gesin
aangekeer, gemartel en in die tronk gegooi. Selfs daar in die polisieselle was
daar iemand wat hul gehelp het deur te fluister dat hul een-een na die toilet
kon gaan waar hul die geleentheid sou hê om dokumente in die toilet af te spoel
wat hul sou inkrimineer.
Tien dae nadat
hul in die tronk gestop is, is haar pa oorlede.
Sy sou dit eers baie later uitvind.
Corrie self was siek en sy is uiteindelik toegelaat om hospitaal toe te
gaan. Al het die dokters bevestig hoe
siek sy was het die owerheid besluit sy moet terug tronk toe. Net voor sy vertrek het, het ‘n verpleegster ‘n
pakkie aan haar oorhandig wat sy in haar klere versteek het. Sy het 4 maande in afsondering in die tronk
deurgebring. Die pakkie sou haar
deurhelp. Binne-in was ‘n tandeborsel,
tandepasta, seep en ‘n Bybel bestaande uit die vier Evangelies.
Corrie het
elke geleentheid gebruik om oor God te getuig, selfs toe sy uiteindelik verhoor
is. Omdat sy soveel tyd alleen
deurgebring het en die Evangelies oor en oor gelees het, het sy besef dat daar
iets goed uit enige slegte gebeurtenis kon kom.
Jesus is deur hel, maar ons sou vry wees as ons in Hom glo.
Later is sy en
haar suster Betsie na ‘n arbeidskamp uitgeplaas. Sy het in ‘n Philips fabriek
gewerk waar radio’s vervaardig is vir die Duitse vegvliegtuie. Soos sy self sê: “Ek het soveel foute as
moontlik probeer maak.”
Lewe in die
kampe was ondraaglik. Op ‘n dag is 700 mans geskiet en die vroue op veetrokke
gelaai en na Duitsland gestuur. Die
konsentrasiekamp in Ravensbruck was veel erger as die vorige kamp of
tronk. Ten spyte van honger,
mishandeling, ontbering en verskriklike swaar arbeid waaraan hul onderwerp is,
het Corrie en Betsie nooit hoop verloor nie.
Net voor hul oorgeplaas is, het iemand vir haar ‘n klein Bybel en vitamiendruppels
gegee. Saans het sy en Betsie die Bybel
gelees en kort voor lank het ander by hul aangesluit. Te midde van haglike omstandighede, kon sy
voortgaan om die boodskap van God se liefde te verkondig. Net soos wat hul vir hulself en die ander
vroulike gevangenes gebid het, het hul ook vir die wagte gebid. Die botteltjie met vitamiendruppels het nooit
opgeraak nie, al het Corrie dit met soveel vroue gedeel.
Ongelukkig was
die haglike omstandighede en uitmergeling te veel en is Betsie oorlede. Corrie was gebroke, maar sy het vrede gevind
toe sy haar suster se gesig sien na die tyd. Dit was vreedsaam, sonder enige
pyn of hartseer.
Op ‘n dag is
sy geroep en summier ontslaan. Terug in
haar tuisstad moes sy hoor dat haar ontslag ‘n fout was. ‘n Week later is al die vroue in die kamp by
Ravensbruck na die gaskamers geneem waar hul gesterf het.
Corrie het die
wêreld vol gereis, meer as 60 lande, om van haar wedervaringe te vertel en die
boodskap van God se onmeetlike liefde te verkondig. Genesing en rekonsiliasie was vir haar uiters
belangrik.
In die
konsentrasiekamp het haar suster, Betsie 2 visioene gehad… een van ‘n pragtige
huis waar gebroke mense na die oorlog heling kon vind – die huis is aan haar
geskenk… en ‘n plek van genesing in Duitsland, waar selfs van die wagte
genesing kon vind… en dit het so gebeur.
Corrie sou
altyd die tronke besoek in elke plek waar sy haar bevind het. Sy kon hul bemoedig omdat sy self deur soveel
is. Deurentyd het sy haar boodskap oor
God se liefde gedeel. Tydens
rehabilitasiewerk met ‘Holocoast’ slagoffers sowel as kampslagoffers, het sy
bevind dat slegs diegene wat in staat was om te vergewe, goed herstel het en
weer ‘n vol lewe kon lei.
Hierdie is nie
‘n verhaal van hartseer en wanhoop nie. Inteendeel,
dit is bevestiging van God se liefde vir diegene wat Hom in en deur alles dien
en ‘n voorbeeld vir ons wat twyfel aan Sy liefde terwyl ons nie naastenby
deurgaan wat Corrie en haar familie deurgegaan het nie. Nie net het sy die boodskap verkondig nie,
maar sy het ook gesorg dat sy God se hande, voete en spreekbuis op aarde is te
midde van haglike omstandighede. En oral
in haar verhaal is daar bewyse van God se liefdevolle versorging… deur mense
wat Hy oor haar pad gebring het.
No comments:
Post a Comment