Genesis 41 : 35
& 36 Hulle moet al die graan van die
goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak
sodat daar kos tot u beskikking is. Die
graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van
hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land
uitroei nie.”
Die
Egiptenare moes graan insamel en in graanskure bêre om voorsiening te maak vir
die maer jare. Genadiglik het die Farao
geluister, want hy het vir Josef gehad wat ‘n boodskap van God hieroor gekry
het.
Kapenaars
moet water spaar… om dag Zero te vermy. Ons het ook die boodskap uit verskeie
oorde gekry, maar ons hoor nie. Te veel
van ons is nog in die ontkenningsfase.
Sou
alle Kapenaars lankal besef het dat water kosbaar is en dat elke druppel
gespaar moet word, was ons nie nou in die penarie waarin ons, ons bevind
nie. Daar is steeds te veel mense wat
reken dat dit nog altyd betyds gereën het, so hoekom sal dit nie hierdie keer
gebeur nie. Wel, die Winter in 2017 het
gekom en gegaan en ons het nie noemenswaardige reën gekry nie. Wat sal gebeur as die Winter van 2018 ook nie
voldoende reën bring nie?
Diegene
wat egter wel die lig gesien het, sal nooit weer onverskillig met water te werk
gaan nie. Dieselfde water word nou 3 en
4 keer oor en oor gebruik. Ons kan
eenvoudig nie bekostig om water net een keer te gebruik nie. Dis ondenkbaar om drinkwater in ‘n toilet te
sien afspoel. Skielik is dit onsinnig om
elke dag te stort (bad is lankal uit). Ons
was in ‘n katspoegie water en ek reken ons is skoner as toe ons ure lank gebad
of gestort het. Kan jy glo dat sommige
mense baddens vol water getap het om in te lê!
Of dat sommige mense twee keer per dag gestort het?
Dalk is
dit God se manier om ons te leer om water te respekteer. Met "load-shedding" kon ons nog ‘n plan maak
deur kragopwekkers en sonpanele, maar met water is daar bitter min wat jy kan
doen. Ons koop water vir ‘n vale of sink
boorgate, maar dis alles tydelik. Dank
God Die Bybel sê nie dat die einde van die wêreld sal aanbreek wanneer ons
almal omkom van dors nie. Dis alreeds
hartverskeurend om plante en diere te sien vrek van dors. Mense baklei alreeds oor bottels water. Kan jy jou indink?
Gehoorsaamheid
en verantwoordelikeheid is die kern van die saak. Gehoorsaamheid aan God, gehoorsaamheid aan
oproepe om te spaar sowel as verantwoordelikheid teenoor God en ons nageslag.
No comments:
Post a Comment