Maleagi 3:10 Bring die volle tiende na die voorraadkamer
toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here
die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal
oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.
Wanneer
ek finansiële opvoeding doen is een van die opmerkings altyd: “Ek kan nie my tiende gee nie, want ek het
nie eens genoeg geld om alles te betaal nie. Dalk is dit omdat jy nie 'n goeie rentmeester is van dit wat God jou toevertrou het nie.
Ek
glo die heel eerste item op jou begroting behoort jou tiende te wees, of jy dit kan bekostig of nie. Ja, dit is reg. Jou tiende staan heel bo-aan die lysie. Daarna volg Spaar, selfs al is dit net R10 pm, en dan die res.
Waar
begin jou lysie? Dalk skuld 1, skuld 2,
skuld 3, skuld 4, ens, ens, ens? Ek lees
iewers: “Finansiële sekuriteit word bepaal deur wat jy spandeer, nie deur wat
jy verdien nie.” Ironies genoeg reken ons hoe meer ek verdien, hoe meer kan ek uitgee. Meeste mense kyk na
wat hul verdien en werk dan hul begroting uit.
Sodoende word die lysie van ontvangers van jou swaarverdiende geldjies
al langer. Spandeer net wat nodig is, en
ook net as jy die geld het.
God
daag jou uit om hom te toets. Toets Hom
gerus. Ek glo jy kan nooit meer gee as
waarmee God jou sal seën nie. Die
oomblik dat jy begin gee, trek God die sluise oop. Skielik gaan jy wonder
hoekom daar nou altyd geld in jou beursie is… hoe dit moontlik is dat
jy uitkom met die bietjie wat jy verdien terwyl dit op papier nie sin maak
nie. Glo my, ek praat uit
ondervinding.
Volgens
die Ou Testament moes die volk die beste van hul diere bring om te offer, nie
die sieklike of gebreklike diere nie.
Ons moet dieselfde logika aan die dag lê. Moenie vir God die kleingeld in jou beursie
gee wanneer jy jou bydrae in die kollektebordjie gooi nie. Daag Hom uit… toets
Hom! Gooi die grootste noot, of selfs
alles wat jy het in en ek waarborg jou jy gaan dit tienvoudig terug kry. Gee die volle tiende, nie die afgewaterde tiende nie.
No comments:
Post a Comment