Genesis 22 : 16 –
17 en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat
praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen
het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek
sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die
hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in
besit neem.
Die
verhaal van Abraham en Isak het ‘n gelukkige einde. Omdat Abraham bereid was om
vir Isak, sy kosbaarste, op die altaar te plaas, het God hom geseën met ‘n
nageslag wat vergelyk met die sterre aan die hemel of die sand van die see.
God
mag ‘n jaloerse God wees, maar Hy is ook ‘n God wat diegene beloon wat getrou
is. God se hart vermurwe die oomblik toe
Hy sien dat Abraham regtig bereid is om sy seun te offer.
Ook
Job is geseën met meer as wat hy tevore gehad het. Job het geweier om God te verloën. Ten spyte van bomenslike beproewings, het hy
geweier om God te vervloek. Lot kom
gelouter anderkant uit en God trek die sluise oop.
Die
een ding wat die lewe my geleer het is dat jy nie kan ontvang terwyl jou hande
vol is nie. Jy moet eers laat gaan van
dit waaraan jy vasklou. Dan kan God nuwe
seëninge in jou hande plaas. En keer op
keer is dit wat jy ontvang beter as wat jy gehad het.
Soms
dink ‘n mens dat ‘n egskeiding of ‘n verbreekte verhouding die einde van die
wêreld is, maar daar kom ‘n dag dat jy terugkyk en ‘n dankbare sug slaak omdat
jy eintlik veel beter daaraan toe is as voorheen.
Kyk
maar na die natuur. Na verwoestende
veldbrande spruit nuwe plantjies en gras uit.
Daardie einste saadjies wat jare lank dormant in die grond gelê het,
word deur hierdie versengende hitte ‘n nuwe kans op lewe gebied.
No comments:
Post a Comment