Psalm 130 : 4 Maar by U ís daar vergifnis
Keer op keer verstom God se matelose liefde
my. Al probeer ons hoe hard, ons
struikel daagliks.
Ons het soveel goeie
voornemens, maar soms is daardie voornemens by die deur uit, nog voor ons die
huis verlaat. Jy sal weet wat jou
swakheid is.
Elke keer bid ons en vra God om vergifnis,
en elke keer vergeef Hy ons… weer en weer.
Hy mag dalk teleurgestel wees in ons, maar Hy verstoot ons nooit. Dit kan net ware liefde wees, liefde wat ons
so min teenoor ander betoon. Ons dra
soms ‘n wrok vir dae oor kleinighede, maar ons verwag dat God ons moet vergeef…
en dit terwyl ons in die Onse Vader geleer word
om te bid: “vergeef ons, ons
skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”
Die gebed maak nie voorsiening vir uitsonderings nie.
Is daar iemand wat jy moet vergewe? Hoekom weier jy om die persoon te
vergewe? Wat kan so erg wees dat jy
daaraan bly vasklou? Is dit nie dalk
omdat jy daarvan hou om die ‘slagoffer’ te wees nie? Leer by God.
Vergewe en vergeet, keer op keer.
Partykeer hoor ek iemand sê: “Ek
sal hom/haar vergewe, maar ek sal dit nooit vergeet nie.” Dis nie goed genoeg nie. Vergifnis beteken dit is uitgewis, vir
altyd. Jy grawe nie weer ou koeie uit
die sloot uit nie. Ontwikkel
geheueverlies daaroor.
Jy kan maar weet dat iemand, iewers deur
die dag, iets gaan sê waarvan jy nie hou nie of wat jou seermaak, of te na
kom. Hoe sou jy voel as God so
genadeloos teenoor jou opgetree het, soos wat jy optree teenoor diegene wat jou
iewers in die verlede tenagekom het?
No comments:
Post a Comment