Kolossense 3 :
15 En die vrede wat Christus gee, moet
in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van
een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
Menige
skoonheidskoningin het al gesê hul sal hul beywer vir wêreldvrede. Suid-Korea meen Donald Trump moet die Nobel
Vredesprys kry omdat hy vrede bewerkstellig het tussen Noord en
Suid-Korea.
Ons
almal begeer vrede, maar dit bly ons ontwyk. In ons eie land is daar
nie vrede nie. Dit is asof ons net
nie die vure in Suid-Afrika geblus kan kry nie.
As dit nie betogings is nie, is dit rassisme… as dit nie rassisme is
nie, dan is dit stakings… as dit nie stakings is nie, dan is dit moord en
doodslag… Soms is die onmin selfs binne
ons huise en gesinne!
Hier
lees ons so duidelik dat God ons geroep het om as lede van een liggaam in vrede
met mekaar te leef. Die arm kan tog nie
vir die oor kwaad wees nie. Dit laat jou
wonder of ons werklik ‘n Christenland is.
Ons
gaan toe oë in ‘n verhouding in en wanneer dinge verkeerdloop, wonder ons
hoekom. Ons koop goed waarvoor ons nie
geld het nie en dan wonder ons hoekom ons so swaarkry. Ons verander van werk net om kort voor lank
die slagoffer van personeelvermindering te word en dink dan dat dit darem baie
onregverdig is. Het ons vrede oor ons besluite gehad?
Wanneer
dinge verkeerdloop kan jy maar terugloop op jou spoor en jy sal sien dat jy
nooit vrede oor jou besluit gehad het nie, want jy het dit heelwaarskynlik
nooit eens met God bespreek nie. Net God
kan vrede en gemoedsrus gee. Bespreek
dit met God en wag op ‘n antwoord.
En
daarom sal ons nie ophou bid en glo dat God vrede in ons land en tussen ons
mense kan bewerkstellig nie… nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.
No comments:
Post a Comment