Tuesday 5 June 2018

Eendag


Hebreers 11 : 7  Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie.

Wanneer jy na mense se gesprekke luister, besef jy hoeveel hoop daar eintlik binne ons is.  Ons het hoop vir die toekoms anders sou ons nie oor eendag gepraat het nie.  Ons gaan ‘eendag’ oorsee… Wanneer ek ‘eendag’ trou… As ons kinders eers ‘eendag’ daar is… ‘Eendag wil ek nog… 

Ek glo dat die mens voortbeur na eendag.  Eendag bied vooruitsigte, hoop en die geleentheid om te droom. 

Noag het ook in eendag geglo.  Eendag sou hy en sy gesin die boot binnestap nadat al die diere volgens God se instruksies ook ingegaan het... Eendag sou die reëns kom en diegene wat hom so spot, saam met die res vergaan.   Eendag sou die water opdroog en sal hy en sy gesin sorg vir 'n nuwe geslag.  Noag het geen waarborg gehad, net God se voorsiening tot op daardie dag en ‘n vaste geloof.

Ons glo ook blindelings… dat Jesus weer eendag sal terugkom na die aarde om ons te kom haal om vir ewig saam met hom in die hemel te wees. 

Die probleem lê dus nie by eendag, maar by vandag.  Dit is vandag waaroor ons onseker is.  Dit is vandag wat ons bang maak.  Die vraag is egter hoekom ons God vertrou vir eendag, maar ons twyfel oor Sy vermoëns of versorging vir vandag?  Dis immers dieselfde God wat ons dien.  Die God van vandag, is ook die God van gister (van Noag) en die God van môre.

Ons mag God dalk nie vandag sien nie, maar ons weet verseker Hy was gister by ons en ons glo dat ons Hom eendag weer van aangesig tot aangesig sal sien.  En dit is juis wat geloof is.  Ons glo al sien ons nie… en ons glo omdat ons hoop het vir môre.  Daarom gaan ons ook vandag tegemoet met geloof, want God is reeds daar.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...