Wednesday 6 June 2018

Visualiseer


Spreuke 27:19  Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.

God het ons geskep as visuele wesens.  Daarom is dit so belangrik dat ons hierdie gawe gebruik om onsself as’t ware reg te programmeer deur die regte beelde in ons gedagtes voor te hou, want wat ons sien, is waarheen ons sal neig. 

Visualisering is bloot die wyse waarop jy jouself sien.  Dit skep vir jou brein ‘n prentjie van hoe jy oor jouself voel en dit is juis hier waar jy die krag van visualisering moet inspan.  As jy jouself op ‘n negatiewe manier sien, is die kanse goed dat jou lewe sal uitdraai soos jy dit sien.  Aan die ander kant, as jy daardie prentjie herskep deur dit te kleur soos wat jy dit graag wil sien, dan begin die gety vir jou draai.  Jy kan jouself dus in die lig sien van ‘n wenner, iemand wat suksesvol is, ‘n persoon wat struikelblokke oorkom, daardie persoon wat hul Godgegewe doel in die lewe uitleef. 

Ons verbeelding is ontsettend kragtig.  Die manier waarop ons onsself sien in die prentjies wat ons skep, sal ingeprent word in ons siel en as ons aanhou om daarop te mediteer, verplaas dit na ons onderbewuste.  En sodra dit in jou onderbewuste is, is dit min of meer soos gravitasie, dit trek jou aan.  Dis dan dat prentjies ‘n werklikheid word.

Skep ‘n prentjie in jou gedagtes van dit wat jy wil bereik.  Dit sal verskillend wees vir verskillende mense.  Vir party sal dit wees om ‘n doelwit te bereik, vir iemand anders ‘n suksesvolle besigheid, en vir nog iemand om gelukkig en gesond te wees.  Dit wat jy voorhou, is waarheen jy sal beweeg. 

Daar is dus geen rede hoekom jy na ander se lewe of talente moet kyk en wens dat jy ook soos hul kan wees nie.  Jy kan wees wie jy nog altyd bedoel was om te wees, want onthou God se planne vir jou was nog altyd goed en het nog altyd sukses en voorspoed ingesluit.  Sy planne was nog nooit om jou te na te kom nie.

Moet ook nie vergeet dat dieselfde van toepassing is op jou verhouding met God nie.  Wanneer God op die voorgrond van jou gedagtes is en jy voortdurend mediteer op Sy wil vir jou lewe, is dit waarheen jou lewe sal beweeg en hoe jy as Christen sal groei. 

Sodoende maak jy seker dat jy jou gedagtes rig op die regte dinge en die regte rigting vir jou lewe.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...