Monday 25 June 2018

God se besluit


Ester 5 : 2  Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.

Ons wonder soms hoekom God sekere mense roep.  Ons kyk na hulle met ons menslike oordeel en beperkte visie en bevraagteken God se oordeel.  Regtig, God, hoe kan U hom/haar gebruik.  Kyk hoe lyk hul lewe!

God het ‘n tiener genaamd Ester geroep om die Joodse nasie te red.  Sy het in geloof opgetree en die koning ongenooid genader, selfs al was dit teen die reëls en kon sy met haar lewe boet.

Wat ons nie besef nie, is dat God in die agtergrond besig was omdat Hy ‘n groter plan in gedagte gehad het.  Hy het die weg vir Ester gebaan om die werk te doen waarvoor Hy haar geroep het.  En so is daar vele voorbeelde van onwaarskynlike mense wat God gebruik het.

Rut was ‘n nie-Jood.  Omdat God ‘n plan vir haar lewe gehad het en haar hart oop was vir Hom, het sy met Boas getrou; ‘n welgestelde man.  Die onmiddellike voordeel was dat sy versorg was.  Dit was God se guns en seën en uiteindelik deel van Sy groter plan.  Uit daardie huwelik is Dawid gebore, deel van die stamboom waaruit Jesus Christus eendag gebore sou word.

Dit is beter dat ons nie God se keuses bevraagteken nie.  Glo my, niemand sal in Sy diens staan as Hy hul nie daar wil hê nie.  Hy kan so iemand met een oogknip verwyder.  Ons ken net ten dele, maar eendag sal God se plan vir ons duidelik wees.

As jy so iemand is wat in God se diens staan en jy moet elke dag kritiek verduur, moet jouself nie verduidelik of jou posisie regverdig nie.  Wees jy net gehoorsaam en doen waarvoor jy geroep is.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...