Sunday 24 June 2018

Dwaasheid


Spreuke 12 : 15  In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad

As jy dink jy weet alles, sal jy die geleentheid mis om iets nuuts te leer.  As jy dink jy weet beter, mis jy die geleentheid om van iemand te leer wat wel meer as jy weet.  Realiteit is dat so 'n rigiede denke, geen ruimte vir jou laat om jou horisonne te verbreed nie.

Dit is hoekom Jesus so hard op die Fariseërs was.  Hulle was nie ontvanklik vir Sy leringe nie…

Wetenskaplikes gebruik ‘n mikroskoop om byna onsigbare mikro organismes daaronder te vergroot sodat hulle dit kan sien.  Party van ons het nie eens 'n mikroskoop nodig nie.  Ons het sommer van nature 'n mikroskopiese uitkyk op die lewe.  Ons blaas dit wat op die mikroskoop se plaatjie lê op en omdat ons dan op 'n baie klein deeltjie fokus, mis ons die groter prentjie.

‘n Geslote brein sal nooit ontvanklik wees vir ‘n goeie idee nie.  Elke situasie is eintlik ‘n geleentheid… dit hang net af hoe jy daarna kyk, maar ‘n geleentheid kan nie in jou skoot val, as jou skoot nie reg geposisioneer is nie.  Ons fokus is dikwels heeltemal verkeerd en dan is ons boonop te hardkoppig om dit te erken.

Dit veroorsaak dat ons nie net geleenthede mis nie, maar ook op verkeerde plekke soek.  Dit is ook hoekom ons reg ingestel moet wees op God.  Ons kan nie op ons eie insigte staatmaak nie.  Ons is nie alwetend nie, ons is en bly afhanklik van God.  Dalk stuur God iemand vandag oor jou pad om deur hul met jou te praat en jy hoor dit nie, want jy is nie ingestel op God se stem nie. 

Mag jy vandag hier lees met ‘n oop gemoed en groot genoeg wees om te erken as jy tot nou toe op ‘n dwaalpad was… as jy gedink het jy weet beter… te hardkoppig was om na wyse raad te luister… of die stem van God geignoreer het.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...