Wednesday 20 June 2018

Hoe praat ons met mekaar?


Kolossense 4 : 6  Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

Weet nie of dit my verbeelding is nie, maar dit wil voorkom asof mense deesdae al minder geduld het en veral minder verdraagsaam is teenoor mekaar.  Daar is onderstrominge en frustrasies wat uiting vind in ons optrede teenoor mekaar.

Wanneer mense op die aanval is, is dit gewoonlik om hulself te verdedig.  Dit is of as gevolg van vrees of as gevolg van ‘n skuldgevoel.  Daar is ‘n eensydige uitkyk op die saak.  Hulle glo gewoonlik dat hul reg is en wil dit ten alle koste bewys. 

Jy mag dalk van my verskil en reken dat party mense bloot onbeskof gebore is.

Laat ons nie klippe gooi nie, maar eerder intensiewe selfondersoek doen.  Nie een van ons is in hierdie opsig onskuldig nie.  Hoeveel keer blaf ons na iemand sonder om twee keer te dink?  Dis amper ‘n refleksbeweging.  En hoeveel keer moes ons al tot ons skaamte erken dat ons verkeerd was?

Wanneer jy iemand slaan, gaan min mense stilstaan.  Hul gaan gewoonlik terugslaan.  Die kanse is dus goed dat ‘n skewe woord/antwoord/opmerking presies dieselfde van die ontvanger gaan ontlok.  Voor jy jou kom kry is dit ‘n bekgeveg.  Indien mense op mekaar skel of baklei, hoor jy glad nie die ander persoon nie.  Jy is alreeds besig om jou teenargument te formuleer terwyl hul nog besig is om te praat.

Daar is dus geen wenners wanneer mense hul in ‘n woordestryd bevind nie.

Die woord verwag van ons om altyd vriendelik te wees… dat dit wat ons sê van goeie smaak sal getuig… en dat ons die wysheid sal hê om te weet hoe ons mense moet antwoord.  Dit bied nogal stof tot nadenke. 

Is dit nie juis waar ons as kinders van God ‘n voorbeeld behoort te stel nie?  As daar ‘n wag voor elke Christen se mond is in ‘n land waar die meerderheid as Christene gesien word, moet daar verandering plaasvind.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...