Thursday 21 June 2018

Dankie!


Deuteronomium 8:10  “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het

Onthou jy nog die jare toe ons aan tafel geëet het as gesin?  Voor ons begin eet, sou ons hande vat en pa sou ‘n tafelgebed doen.  Ons mag ook nie van die tafel opgestaan het alvorens almal nie klaar geëeet het en pa ‘n dankgebed gedoen het nie.

Deesdae eet ons sommer so op ‘n drafstappie of as ons nog gaan sit om te eet, is dit op ons skote voor die televisie.  Bid en dank ons nog?  Ja, daar is nog mense wat dit doen.  Dis vir my altyd ‘n riem onder die hart as ons in ‘n restaurant is en ek sien mense hul hoofde in stilte sak voor hul begin eet.  Dis ‘n tradisie wat ons aan ons nageslag moet oordra en die enigste manier om dit te doen is om dit uit te leef.

Met die droogte die afgelope jaar, het duisende gebede opgegaan vir gebed van individue, maar ook gebedsaksies.  God het vir ons deurgekom en milde reën het geval.  Ek het ongelukkig nog nie van ‘n dankdiens gehoor nie.  Hoe hartseer is dit?  Hoe kan ons God weer vir iets vra as ons nie die ordentlikheid het om dankie te sê nie?  Ek weet daar is individue wat God wel bedank, maar moet ons nie in die openbaar ook dankie sê nie. Dalk sal dit selfs beter in ons land gaan as ons as kinders van God begin om God te dank.

Soos bedorwe brokkies is ons gou om te vra en ons raak ongeduldig en ontsteld as God nie gou vir ons deurkom nie.  Is dit nie dalk omdat ons nie gou is om dankie te sê dat God traag is om ons gebede te verhoor nie? 

Ek moet erken dat ek myself al betrap het dat ek nie dadelik vir God dankie gesê het nadat Hy my gebede beantwoord het nie.  Hoe vaar jy op die gebied?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...