Prediker 5 :
18 God gee aan 'n mens rykdom en
besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk
met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God
Die
skrif leer ons dat God ons seen en die vermoë gee om dit wat Hy ons gee te
geniet. Dit beteken dat elkeen van ons,
ons deel ontvang. Wat ek uit die hand
van God ontvang, is myne. As iemand
anders die geleentheid sou kry om my lewe te lei, mag dit wees dat hul dit glad
nie sal geniet nie, want elkeen van ons is uniek en hardloop ons eie wedloop.
Wanneer
ons dit verstaan en omarm, sal ons nie meer in die versoeking kom om ons lewe en
dit wat ons het of nie het, te vergelyk nie.
Jy sal nie wens dat jy iemand anders se talent het nie, want as God dit
so wou gehad het, sou Hy jou die talent gegee het. Neem wat jy het en ontwikkel dit. Maak die meeste daarvan. Moenie dink dat dinge anders sou gewees het
as jy soos hy of sy gelyk het of gehad het wat hulle het nie. Die feit dat jy nie het wat ander het nie, is
nie die noodlot nie, dis God. Jou lewe
is perfek vir die persoon wat Hy jou gemaak het.
Jy
moet eenvoudig begin om opgewonde te raak oor jou uniekheid. Ontdek jouself, jou gawes, jou talente, jou
persoonlikheid en ontgin dit tot jou voordeel.
Niemand anders het wat jy het nie.
As jy passievol en trots is op wie jy is, bring dit hulde aan God. Dis wanneer God jou in die regte rigting
stoot sodat die saadjies wat Hy binne jou geplant het kan ontkiem en in volheid
blom.
No comments:
Post a Comment