Sunday 10 June 2018

Palmbome


Psalm 92 : 12 -13   Ek kyk op my teëstanders neer, ek luister sonder vrees na die mense wat niks ontsien nie, wat in opstand teen my is. Die regverdiges sal sterk soos palmbome wees

Wanneer hul vir ons beelde wys van erge storms oorsee, sien jy dikwels ‘n palmboom wat heen en weer geruk word.  Partykeer word die blare van die palm in een rigting gedwing deur die wind en ander kere is dit amper asof die palmboom in ‘n tweestryd met moeder natuur is.  Die wind druk hom byna plat, maar die palmboom spring weer terug sodra die wind skietgee.  Die interessante deel is dat wanneer die palmboom so platgedruk word deur die wind, maak dit hom meer soepel en dus sterker.

Jy sien die rede hoekom ons floreer soos ‘n palmboom, is omdat God geweet het dat ons ook storms sal beleef.  Hy het geweet dat die stormwinde ons sal probeer knak en dat swaarkry ons vreugde sal probeer steel.  Daarom het God gesê die mens sal soos ‘n palmboom wees…al woed en tier die stormwinde rondom ons, sal ons weer regop bons, net soos die palmboom sodra die storm bedaar.  Ons mag dalk heen en weer geklap word, maar ons sal nie geknak of ontwortel word nie.

Kyk maar terug op jou lewe.  Hoeveel storms het jy al oorleef?  Elke keer het jy oorleef en elke keer het jy sterker geword.  Jy kan selfs erken dat jy iets geleer het.  Jy is wyser en meer veerkragtig.

Soos met die palmboom, breek die son ook weer vir jou deur en kan jy fier en trots bly staan.  Dan kyk jy ook trots, soos die palmboom, op jou vyande neer.  Jy is ‘n wenner en daarom sal niks jou onderkry nie… ook nie dit waardeur jy tans gaan nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...