1 Korintiërs 12
: 17 – 18 As die hele liggaam oog was,
hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? Maar nou het God die lede, elkeen van hulle
afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.
Op ‘n
stadium is Johannes besig om mense te doop. Hulle vra vir hom of hy die
Christus is. Johannes hoef nie twee keer
te dink nie. “Nee, ek is nie die
Christus nie.”
Dis
duidelik dat Johannes geweet het wie hy was, maar meer as dit… hy het ook
geweet wie hy nie was nie. Sy werk was
om die pad voor te berei vir Jesus. Hy
was nie Jesus nie.
Jy
sien, dit is net so belangrik om te weet wie jy nie is nie, anders word jy
ingetrek by dinge waar jy dalk belangrik mag voel, maar beslis nie waarde sal
toevoeg nie. Jy het dalk 'n belangrike pos, maar dit is nie waar God jou sien nie.
Ons het almal beperkings en
as ons nie weet wat ons beperkings is nie, sal ons nooit ons natuurlike gawes
ten beste kan aanwend nie. Jy sal ook
nie jou roeping kan verwesenlik nie.
Soos
elke deel van die liggaam sy eie funksie het, so het elkeen van ons ook ‘n
spesifieke doel in God se koninkryk. Hy
wil ons plant waar ons op ons beste kan blom.
Wanneer
jy egter op plekke is waar jy nie veronderstel is om te wees nie, of tussen
mense waar jy nie bedoel is om te wees nie, sal jy altyd minderwaardig en
onvergenoegd voel. Dit sal ‘n stryd wees
om jou beste te lewer. Dit hoef nie jou
lot te wees nie.
Besef
wie jy is en hardloop jou eie resies. Atlete
bly binne hul bane vir ‘n rede.
No comments:
Post a Comment