1 Kronieke 4 :
10 Jabes het die God van Israel
aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied,
neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref
nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.
Daar
word nêrens genoem dat Jabes buitengewone talente of vaardighede gehad het
nie. Ons lees nie dat hy ryk of opgevoed
was nie. Hy was ‘n doodgewone man met ‘n
ongewone vaste geloof en vertroue in God.
Wat ons wel lees is dat sy naam ‘pynlik’ beteken in Hebreeus. Daaruit lei ons af dat sy geboorte sy ma
soveel pyn besorg het dat sy hom ‘pynlik’ gedoop het. Hy kon dus gestremd gewees het of selfs een
of ander agterstand gehad het.
Ons
kan ons so dikwels bekommer oor wat ons nie het nie, maar eintlik het ons alles
as ons net geloof het. Ek lees iewers dat baie mense met groot talente op die
kantlyn sit terwyl gewone mense met geloof die doele skop en wen.
Jabes
het hom nie laat definieer deur die betekenis van sy naam nie. Hy het in God geglo en vertrou dat God hom
kan laat uitstyg bo sy omstandighede, tot so ‘n mate dat ander op hom sou jaloers
wees. Hy’t geweet dat sy toekoms beter
as sy verlede kan wees as God deel daarvan is.
Niks kon hom terughou as God aan sy kant is nie.
So
vir jou en my wat ook doodgewoon is, wat ook dalk nie die beste wegspringplek
in die lewe gehad het nie… ons kan ook suksesvol wees. Ons kan meer bereik as wat ons sou kon dink
of droom as God aan ons kant is.
William
Carey het gesê” “Verwag groot dinge van God en
probeer groot dinge vir God.”
Moenie
dat enige iets jou terughou nie.
No comments:
Post a Comment