Eksodus 14 : 22 Die Israeliete het op droë grond deur die see
gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan.
Teen die tyd
dat die Israeliete by die Jordaanrivier kom, het hul alreeds eerstehands
ervaar waartoe God in staat is toe Hy die see vir hul in twee gekloof het om
droogvoets daardeur te trek. Hier loop
hul hulself nou vas teen ‘n rivier en God sê vir Josua dat Hy die water vir
hulle in twee sou kloof sodat hul droogvoets ook hierdeur sal trek. Die keer het God hul egter gevra om hul voete
nat te maak voordat die water sou skei.
Ek is seker daarvan daar was ‘n paar van hul wat skepties hieroor
was. So iets is nie binne ons
verwysingsraamwerk nie. Water deel nie
in twee nie.
Ons kan hul
egter nie blameer nie, want al ken ons die Bybel hoe goed en weet ons van elke
belofte, is ons ook steeds skepties. Ons
moet egter by die Israeliete leer.
Hulle het
gedoen soos daar van hulle verwag is. Ek
is seker daarvan dat party van hul benoud geraak het toe daardie water oor hul
voete begin spoel en seker gewonder het wanneer dit nou gaan gebeur. Dalk het hul ook begin twyfel en gedink dat
hul vandag gaan verdrink. God het hul
omtrent getoets, want hul was omtrent halflyf in die water toe dit eers geskei
het. Dit het byna onmenslike geloof
geverg, verseker, maar omdat hul gehoorsaam was het hul as’tware in hul
beloofde land ingestap.
Soms verwag
God ook van ons om Hom onvoorwaardelik te vertrou, teen alle logika in. Soms skei hy die see in twee voor ons oë,
soms verwag Hy van ons om in die water in te stap. Jy weet waarvoor jy Hom vertrou. As jy die opdrag van Hom kry om in geloof
vorentoe te tree, doen dit… moenie een oomblik huiwer nie. Al maak dit nie sin nie, beweeg. Wanneer ons Hom so vertrou, sal hy ons geloof
beloon.
God het nie
die Israeliete in die steek gelaat nie en daar is geen rede hoekom Hy jou in
die steek sal laat as jy Hom op dieselfde manier vertrou nie.
No comments:
Post a Comment