Jesaja 10 : 27 In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle
op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal
heeltemal van julle af afgeruk word.
Die skepping,
in besonder die fyner besonderhede daarvan, is iets wat my nooit sal verveel
nie. Neem byvoorbeeld ‘n walvis… ‘n Volgroeide walvis weeg maklik tussen
45 en 200 ton. Daardie enorme dier eet
plankton, ’n uiteenlopende groep organismes wat in die water voorkom. Meeste daarvan is so klein dat mense hul nie
eens daaraan steur nie.
Dan is daar ‘n
spinnekop. Al ooit gewonder hoe ‘n
spinnekop ‘n web kan spin waarin sy prooi verstrengel en vassit terwyl hy baie
maklik daaroor kan loop om sy prooi te gaan haal? Dit is omdat God die spinnekop so uniek gemaak
het soos die walvis en elke ander dier.
Die spinnekop skei ‘n olie af wat teen sy beentjies afloop en dit is wat
hom sulke superkragte gee om oor daardie spinnerak te stap.
As jy dink dit
is uitsonderlik, wil ek vir jou sê dat God glad nie afgeskeep het wat jou
aanbetref nie. Jy is net so geseënd en
uniek. Sy salwing rus ook op jou. Kry jy die prentjie? Salwing, olie? Die olie maak dat die spinnekop nie in sy
eie web vassit nie. Met God se salwing
op jou lewe sal niks hul greep op jou kry om jou terug te hou nie. Bitterheid gaan geen houvas op jou kry
nie. Jaloesie en naywer sal jou nie raak
nie. Die valstrikke wat die vyand vir
jou stel sal jou nie kan terughou nie.
Sy salwing op jou lewe is uiteindelik al beskerming wat jy nodig het. Die juk is verwyder.
No comments:
Post a Comment