Prediker 3 : 11 God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n
bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde
tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.
Vir maande
lank bid ek nou al vir ‘n deurbraak vir ‘n familielid, maar niks gebeur
nie. Om die waarheid te sê al meer en
meer gaan verkeerd. Dit is verby ‘n
kritieke stadium. Ek moet diep delf,
want ek ken al God se beloftes en Sy Woord, maar niks verander aan die
benardheid van die situasie nie. Ek wat
glo dat NIKS by God onmoontlik is nie, begin selfs wonder hoe hierdie gemors
ooit kan regkom. Daar is nie net een
wonderwerk nodig nie, maar ‘n reeks. Op hierdie stadium sal dit fantasties wees
as daar net nie nog iets verkeerdgaan in die persoon se lewe nie.
Ek het op ‘n
punt gekom waar ek voel dat ek saam met die persoon in die put begin
afsink. My gemoedstoestand is besig om
daaronder te lei omdat daar eenvoudig nie uitkoms kom nie. Hoe meer ek probeer dink wat ek nog kan doen
of ten minste verstaan wat aangaan of waar alles so verskriklik verkeerd gegaan
het, hoe meer besef ek dat ek God nie kan ontleed nie. God ken die afmetings van hierdie
krisis. Dis nie vir my nodig om Hom
hieroor in te lig of te bevraagteken nie.
Soms is ons in
God se pad. Ons bly tussenin kom om
dinge beter te probeer maak, maar eintlik is ons besig om die situasie te
vererger of dalk selfs te sabotteer.
Wanneer ‘n geliefde ‘n operasie moet ondergaan, sal dinge nie goed
afloop as ons die skalpel uit die chirurg se hand neem en self opereer sodat
die operasie vinniger gedoen kan word nie.
Uiteindelik
besef ek dat ek net vrede kan ervaar as ek besef dat ek nooit die volle omvang
van God en/of Sy werke en/of Sy tydsberekening kan verstaan nie.
Die Skrif sê ook
in Prediker 8 : 6 dat elke ding sy tyd en
plek het Ek weet nie wat nog moet gebeur
nie, maar God is in besit en in beheer van die volle plan en ek moet Hom
vertrou. Miskien moet iets nog gebeur,
dalk moet daar nog groei plaasvind, of ‘n les geleer word, of miskien is dit
net nog nie tyd nie.
Ek kan sien
dat God besig is met die persoon en ek moet laat gaan en laat God. In plaas van inmeng het ek begin om God te loof
en prys, want ek het agtergekom dat dit baie moeilik is om bekommerd te bly as
jy lofprysinge sing.
No comments:
Post a Comment